Update
OUDTSHOORN NUUS - Onrus oor nuwe huise broei sedert verlede Vrydag in Rose Valley.
Polisielede was reeds verlede Vrydag op die toneel waar inwoners oproerig geraak het. Volgens een van die inwoners is daar te veel onregmatigheid wat met die oorhandiging van die huise gepaard gaan.
"Hierdie is nou fase drie, maar hier is mense wat al van fase een af wag en nog nooit 'n huis gekry het nie. Van die mense is bejaardes en persone met gestremdhede. Nou is daar sommer mense van George en die Kaap wat huise kry."
Ander klagtes was die verhuring van nuwe huise, mense wat huise ontvang, maar reeds huise het en mense wat saam woon en elkeen apart 'n huis ontvang.
Maandagaand was lede van die privaat sekerheidsmaatskappy, die Rooimiere, in Rose Valley. Hulle het een gesin wat onwettig in 'n huis ingetrek het uitgesit en moes ook waghou oor die oorblywende huise wat nog toegeken moet word om te verseker dat niemand dit onregmatig beset nie.
Brandon Smith, die man wat onregmatig in die huis ingetrek het, het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hulle verlede jaar gekwalifiseer het vir 'n huis, maar omdat hy nou 'n beter salaris verdien kwalifiseer hy net vir 'n gedienste erf en mag hy nie meer die huis kry nie.
Volgens Smith maak dit egter nie vir hom sin nie, want as hy reeds in die huis gewoon het en dan die beter salaris verdien het sou hy in die huis mag aanbly.
"Mense wat in Oudtshoorn gewoon het en George toe getrek het vir 'n werk kwalifiseer dan steeds vir 'n huis in Oudtshoorn. Ek baklei vir my gesin deur dit wat ek gedoen het. Ek het 'n vrou en vier kinders," het hy gesê.
Shehaam Sims, waarnemende direkteur van landelike nedersettings, het gesê onregmatigheid moet aangemeld word. Volgens haar is sy bewus van gerugte oor mense wat huise uitverhuur, mense wat reeds huise het en weer huise kry en mense wat buite Oudtshoorn woon wat hier huise kry.
"Indien mense weet van onregmatigheid moet dit aan ons uitgewys word. Mense het al kom klagtes indien, maar niemand kan adresse verskaf van huise waar die tipe onregmatigheid aangaan nie."
Oor die beweringe oor mense van fase 1 wat steeds op huise wag sê sy dat daar moontlik iewers papiere ingehandig moes word wat nooit gedoen is nie. Sy het gesê dat mense dit moet aanmeld indien dit met hulle gebeur het.
Volgens die verklaring is die oproerigheid nie iets vreemd nie en gebeur dit gereeld wanneer nuwe huise oorhandig word omdat mense bang is hulle kry nie huise nie. Sims sê ook dat dit wel so is dat munisipale amptenare se families huise kry, maar bloot omdat hulle voorheen in informele nedersettings gewoon het en wel kwalifiseer om in 'n huis te bly.
Sims het verder gesê dat die provinsiale regering oor die oproerigheid ingelig is en die Rooimiere deur die regering laat kom is.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'