Update
OUDTSHOORN NUUS - Die sooispitgeleentheid vir 'n nuwe winkelsentrum op die stuk grond langs die Bridgton-kliniek in Springbokweg het Dinsdagoggend met gemengde gevoelens onder inwoners plaasgevind.
'n Aantal aanwesiges het luidkeels beswaar aangeteken teen die bou van die R45 miljoen winkelsentrum omdat die gemeenskap glo nie geken is in die toekenning van die perseel aan 'n ontwikkelaar van Stellenbosch nie en daar glo geen publieke deelname tot die aanloop van die projek was nie.
Die oorgrote meerderheid van die aanwesiges het egter die projek verwelkom omdat dit werksgeleenthede in die vooruitsig stel. Nie net tydens die bou van die sentrum nie maar ook na die voltooiing.
Volgens die ontwikkelaar, Boet Smuts, sal bouwerk eersdaags begin en teen Paasnaweek 2019 voltooi behoort te wees.
Die ontevredenes het sprekers telkens in die rede geval en die burgemeester, Colan Sylvester, het die toneel later verlaat nadat hy met twee mans in 'n woordewisseling was.
Hy het, voordat hy in die rede geval is, beklemtoon dat die projek gefokus is op werkskepping en ekonomies ontwikkeling in die Groter Oudtshoorn.
"Die groot vraag is altyd: Hoe skep ons geleenthede om die omstandighede in die breë Oudtshoorn te verbeter. En daarvoor het ons gespesialiseerde mense nodig."
Die projek is reeds in 2016 geprioritiseer en kom reeds sewe jaar aan. Die nuwe winkelsentrum sal volgens Smuts, winkels soos Shoprite en Pep Stores, 'n selfoonwinkel, skoenwinkel en talle kleiner winkels vir plaaslike besighede, huisves. Die moontlikheid van 'n bank is groot terwyl daar drie OTM's sal wees.
Hulle kon egter nie daarin slaag om 'n apteek ook in die sentrum te kry nie, het hy op 'n vraag van 'n inwoner gesê.
Smuts het die versekering gegee dat daar goeie sekuriteit sal wees tydens die bouwerk asook na die voltooiing van die sentrum.
"Ons sal eienaarskap neem," het Joey Canary, 'n gemeenskapsleier in Wyk 13, van haar laat hoor.
Hennes Schreuder, 'n konsultant en oudwerknemer van Shoprite, het gesê dat Shoprite alleen werk aan tussen 80 en 100 inwoners kan bied.
"Shoprite skeer almal oor dieselfde kam en alles hang daarvan af of 'n persoon die pas kan volhou en die werk waarvoor hy aangestel is kan doen."
Noluthando Mwati, onderburgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Volgens die ontwikkelaar sal daar grootliks gebruik gemaak word van plaaslike arbeid behalwe in gespesialiseerde gevalle.
Die onderburgemeester van Oudtshoorn, Noluthando Mwati, het gesê dit is hoog tyd dat 'n volwaardige winkelsentrum in Bridgton gebou word. Volgens haar is die dorp die enigste in die Suid-Kaap wat nie 'n winkelsentrum in 'n woonbuurt het nie.
"Oudtshoorn moet styg en huise sal kom," het sy onder groot applous gesê. "Ons probeer werk skep in Oudtshoorn en beskou dit as baie belangrik. Ek is oorspronklik van die Oos-Kaap, maar my hart is by die mense van Oudtshoorn."
Lees 'n vorige artikel: R45 miljoen winkelsentrum vir Bridgton
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'