OUDTSHOORN NUUS - Die sooispitgeleentheid vir ’n nuwe winkelsentrum op die stuk grond langs die Bridgton-kliniek in Springbokweg het Dinsdagoggend met gemengde gevoelens onder inwoners plaasgevind.
’n Aantal aanwesiges het luidkeels beswaar aangeteken teen die bou van die R45 miljoen winkelsentrum omdat die gemeenskap glo nie geken is in die toekenning van die perseel aan ‘n ontwikkelaar van Stellenbosch nie en daar glo geen publieke deelname tot die aanloop van die projek was nie.
Die oorgrote meerderheid van die aanwesiges het egter die projek verwelkom omdat dit werksgeleenthede in die vooruitsig stel. Nie net tydens die bou van die sentrum nie maar ook na die voltooiing.
Volgens die ontwikkelaar, Boet Smuts, sal bouwerk eersdaags begin en teen Paasnaweek 2019 voltooi behoort te wees.
Die ontevredenes het sprekers telkens in die rede geval en die burgemeester, Colan Sylvester, het die toneel later verlaat nadat hy met twee mans in ‘n woordewisseling was.
Rdh Colan Sylvester, (burgemeester), Hennes Schreuder (konsultant) Boet Smuts (ontwikkelaar), Andre Serdyn van KVBA, Jannie Joubert (boukontrakteur) en Reggy Smit, wrnm munisipale bestuurder.
Hy het, voordat hy in die rede geval was, beklemtoon dat die projek gefokus is op werkskepping en ekonomies ontwikkeling in die Groter Oudtshoorn.
“Die groot vraag is altyd: Hoe skep ons geleenthede om die omstandighede in die breë Oudtshoorn te verbeter. En daarvoor het ons gespesialiseerde mense nodig.”
Die projek is reeds in 2016 geprioritiseer en kom reeds sewe jaar aan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'