OUDTSHOORN NUUS - Drie ernstige botsings in drie dae in en buite Oudtshoorn, het weereens hewige reaksie van inwoners en motoriste uitgelok.
Alhoewel daar geen ernstige beserings was nie, is groot skade aan voertuie aangerig en was sommige insittendes gelukkig om byna ongedeerd uit die wrakke te klim.
Inwoners het vrylik hulle menings op sosiale media oor bestuurders se oordeelsvermoë gelug.
Die eerste botsing het Saterdagmiddag op die Mosselbaai-pad plaasgevind toe die bestuurder van 'n Nissan-bakkie skynbaar probeer het om 'n vragmotor op 'n sperstreep verby te steek. Volgens die bestuurder van die vragmotor moes die bakkie vir 'n aankomende motor rem waarna dit die agterkant van die vragmotor getref het.
Die bestuurder van die bakkie is ongedeerd en sy seun wat saam met hom was, het snywonde aan sy gesig opgedoen.
In die tweede voorval het 'n BMW Sondagoggend omstreeks 01:00 naby Swans Hardeware vanuit 'n systraat voor 'n aankomende Ford Bantam-bakkie in Voortrekkerweg ingery.
Die bakkie het die BMW aan die regterkant getref en die slag het die bakkie se wiel afgeruk.
'n Seun wat 'n passasier in die bakkie was, is lig beseer toe die bakkie regs van die sperstreep moes rem vir 'n aankomende motor en die agterkant van 'n vragmotor getref het. Foto: Hannes Visser
Met die aankoms van die polisie en nooddienswerkers op die toneel was die BMW verlate.
Twee mense wat op die toneel was het Dinsdag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die man en vrou wat in die BMW was, deur 'n bakkie opgelaai is voordat die polisie op die toneel was.
Die BMW na 'n botsing met 'n Bantam-bakkie in die middernagtelike ure. Die bakkie se wiel wat in die botsing afgeruk is lê by die BMW se voorwiel. Foto: Hannes Visser
Die bestuurder van die bakkie is hospitaal toe geneem nadat hy van borspyn gekla het, maar hy het Maandag laat weet dat hy nie ernstige beserings opgedoen het nie.
In die derde voorval is die bestuurder van 'n bakkie Maandagmiddag met 'n nekbesering hospitaal toe geneem, nadat hy in Voortrekkerweg van agter teen 'n stilstaande taxi vasgery het. Die taxi het by 'n kruising vir aankomende verkeer gewag om regs te draai. Daar was geen passasiers in die taxi nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'