Update
OUDTSHOORN NUUS - ‘n 14-jarige seun, Edward de Jonk, is Dinsdagmiddag opslag dood toe hy deur 'n rooi VW Polo op die N12 getref is. Die ongeluk het omstreeks 16:45 op die hoofpad tussen Rose Valley en Johnson's Bricks plaasgevind.
Volgens 'n ooggetuie het 'n groepie kinders heen en weer oor die pad gehardloop. Van die kinders was aan die oorkant van die pad en die oorledene het na hulle toe gehardloop.
Hy het glo omgedraai en teruggehardloop, reg voor die aankomende motor in.
'n Mediese suster wat op die toneel was, het dadelik probeer om hom te help, maar sy kon geen polsslag voel nie.
Paramedici het kort daarna by die toneel aangekom en Edward dood verklaar. Sy ma, Lenie de Jonk, was op die toneel voordat die nooddienste opgedaag het en is deur omstanders bygestaan terwyl iemand die liggaam met 'n kombers bedek het.
Edward se pa, Joseph Manewil was ook op die toneel met hulle ander seun, die 7-jarige Ashwill. Edward was 'n leerder by Bergsig Primêr.
Die Ondersoekbeampte ondersteun die ouers van die seun wat op die N12 gesterf het. Foto's: Hannes Visser.
In 2018 is nog twee kinders deur voertuie getref. In September 2018 is Rowyda Kammies (13) deur 'n vragmotor getref toe sy en maatjies oor die pad gehardloop het. In Desember 2018 is die 4-jarige Caywon Snyders op dieselfde pad deur 'n vragmotor doodgery.
Nog 'n 4-jarige, Mekayla van Wyngaardt, is in Januarie 2019 dood toe sy in Rose Valley deur 'n bakkie getref is.
Inwoners van Rose Valley het Dinsdag op die toneel van Edward se dood te velde getrek teen die doeltreffendheid van 'n betonheining van miljoene rande wat tussen die besige hoofpad en die nuwe huise by Rose Valley opgerig is.
Die heining is ongeveer 1,4 m hoog en kinders klim met gemak oor die heining.
Kommentare op sosiale media het gewissel van vingerwys na die owerhede en aantygings van motors wat te vinnig ry tot teregwysings dat daar nie genoegsame toesig oor kinders is nie.
Verskeie mense het ook kommentaar gelewer oor kinders wat glo gereeld die besige pad oorsteek om krieket aan die oorkant te speel.
Edward se begrafnisdiens word môreoggend om 10:00 by sy ouerhuis, nommer 17863 Rose Valley, gehou.
Kinders klouter met gemak oor die betonheining langs die toneel van Dinsdag se noodlottige ongeluk op die N12.
Vorige artikel: Seun sterf op hoofpad
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'