Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 4-jarige Mekayla van Wyngaardt wat verlede Donderdag deur 'n bakkie in Rosevalley doodgery is, word die naweek begrawe. Mekayla se ma, Waldene van Wyngaardt (22) sê die dood van haar enigste kind is nog onwerklik.
"Mekayla was vier maande in die hospitaal omdat sy longprobleme gehad het. Sy is Donderdagoggend ontslaan en Donderdagmiddag is sy oorlede. Sy het 'n rukkie na sy ontslaan is by my suster-hulle gaan kuier. Die kinders het glo in die erf gespeel en sy het vir 'n hond wat met haar wou speel geskrik en weggehardloop. My suster se agtjarige dogter wou haar keer, maar was té laat. Sy het glo in die bakkie vasgehardloop."
Van Wyngaardt sê sy is kort na die ongeluk daarvan in kennis gestel.
"Toe ek daar aankom was my kind klaar weg."
Van Wyngaard sê ten spyte van die feit dat haar kind siek was, was sy 'n gelukkige kind wat gehou het van speel en gesels.
"Sy was vreeslik bekkig en het enige ding kwytgeraak. Sy het gehou van lag en was altyd liefdevol en vriendelik."
Sharah-Lees Fortuin, wat naby die toneel woon, het aan die Oudtshoorn Courant vertel hoe die toneel voor haar oë afgespeel het.
"Ek het in my erf met 'n vriendin gesels. Ons het in die pad op gekyk en die kind sien hardloop. Ek en ander mense wat in die straat was het geskree, maar dit was té laat. Die bestuurder van die bakkie het haar nie gesien nie en sy het nie die bakkie gesien. Sy het reg in die bakkie se agterwiel vasgehardloop."
Volgens Fortuin het die bestuurder van die bakkie nie vinnig gery nie.
"Daar woon mense wat vir hom werk daar naby en hy het van hulle af gekom. Hy het nie vinnig gery nie. Toe hy die mense hoor skree het hy dadelik uitgeklim en gekyk wat gebeur het. Hy was in 'n toestand toe hy besef hy het die kind raakgery. Hy het nie heeltemal oor haar gery nie en het probeer om haar onder die wiel uit te haal. Hy het dadelik die polisie en ambulans gebel."
Volgens haar was van die omstanders wat op die toneel was baie omgekrap oor wat gebeur het en was daar mense wat klippe na die bakkie gegooi het. Die bestuurder van die bakkie het gesigbeserings opgedoen en is deur polisie van die toneel af weggelei.
"Van die mense daar het probeer keer en gesê dat dit 'n ongeluk was, maar mens kry mos daardie enkeles wat net glo wat hulle wil."
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê 'n klag van strafbare manslag word ondersoek.
Mekayla word Sondag 10:00 uit die Grace-kerk op Nooitgedacht, waar haar pa woon, begrawe.
Sy is een van vier persone, waarvan drie kinders is, wat in die laaste maand in die Oudtshoorn-omgewing deur voertuie getref is.
Op 13 Desember is 'n 4-jarige seuntjie, Caywon Snyders, deur 'n vragmotor naby die stortingsterrein doodgery. Saterdag 12 Januarie is 'n man vir dronkbestuur in hegtenis geneem na hy na bewering 'n ma en 'n kind in Rosebank raakgery het en weggejaag het.Die polisie het hom kort na die ongeluk vasgetrek. Volgens Micheals was daar nie ernstige beserings nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Vier-jarige deur voertuig doodgery.
Mekayla vanWyngaardt. Foto verskaf
Waldene van Wyngaardt, Mekayla se ma.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'