OUDTSHOORN NUUS - Slegs 10 dae na die arrestasie van 'n beweerde buitelandse dwelmsmokkelaar in Adderleystraat het lede van die Oudtshoorn-polisie weer op 'n huis, dié keer in Oxfordstraat, toegeslaan waar dwelms ter waarde van meer as R100 000 gevind is.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die polisie op 19 November 'n lasbrief bekom en die huis deursoek.
"Daar is op 436 gram tik beslaggelê en 'n 38-jarige man is vir handel in dwelms in hegtenis geneem. Hy gaan ook op die wet van immigrasie aangekla word omdat hy onwettig in die land is. Die waarde van die dwelms beloop R109 000. Die verdagte, Njionye Onyinye, het verlede Vrydag in die hof verskyn."
Jude Egbuna is op 9 November by die huis waar hy sy vrou en drie kinders huur in hegtenis geneem na dwelms met 'n straatwaarde van R500 000 in 'n wendy-huis op die erf gevind is. Die polisie het ook kontant in die huis gevind.
Sy borgtogaansoek begin 4 Desember.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'