OUDTSHOORN NUUS - Die redes waarom burgemeester Chris Mcpherson die raad van die museum wil laat uitsit is twyfelagtig en vreemd.
So sê Moses Mthethwa, bestuurder van die CP Nel-museum.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat die munisipaliteit hul prokureur Christo van der Bergh, opdrag gegee het om 'n aanmaningsbrief te skryf waarin hulle versoek dat die museumraad ontbind moet word.
Volgens 'n verklaring wat deur Mthethwa uitgereik is, is die museum onderhewig aan die Museum Ordonnansie Nr. 8 van 1975 en is hulle ook verantwoordbaar aan die provinsiale ministerie van kultuursake en sport.
Die raad van trustees oefen beheer oor die museum uit in ooreenstemming met die Museum Ordonnansie en die provinsiale minister.
Hy het verder gesê dat die trusteelede aangestel word na die publiek vir hulle gestem word.
"Die proses word in die Staatskoerant / Government Gazette geadverteer. Na die nominasieproses sal die minister die aanstellings oorweeg en die raad aanstel."
Mthethwa het ook gesê dat die burgemeester se uitlating dat die raad nie verteenwoordigend van die inwoners van Oudtshoorn is nie, nie waar is nie en dat vier van die lede in die groter Oudtshoorn-streek gebore is.
"Al die lede van die raad het 'n gemene belang in die groter Oudtshoorn-gemeenskap."
Volgens hom is die finansiële state van die museum volgens die Museum Ordonnansie se riglyne voorberei. Die raad van trustees het 'n mandaat om te verseker dat die rekeningkundige rekords behoorlik voorberei, geoudit en ter tafel gelê word by die museum se algemene jaarvergadering.
Die museum se finansiële rekords word boonop deur die ouditeur-generaal nagegaan en sedert 2018 het die CP Nel-museum 'n skoon oudit ontvang.
Wat die wanbetaling van die agterstallige munisipale gelde aanbetref sê Mthethwa dat die museum 'n vrystelling ontvang het en nie verplig is om enige munisipale diensfooie aan die Oudtshoorn-munisipaliteit te betaal nie. Hierdie vrystelling is in Mei 2005 deur die volle munisipale raad goedgekeur.
"Die raad van trustees van die CP Nel-museum voer sy funksies ywerig, professioneel, sonder vooroordeel of onbehoorlike invloed uit. Hulle doen dit met nederigheid en waardigheid, en binne die perke van alle toepaslike wette, in die beste belang van al die inwoners van die groter Oudtshoorn-gemeenskap. Wees verseker dat die raad van trustees van die CP Nel-museum verteenwoordigend is van al die mense van Oudtshoorn, en nie net 'n deel of segment daarvan nie," het hy gesê.
Verwante artikels:
- Dispuut tussen museum en munisipaliteit duur voort
- Dispuut gaan voort
- Minister kyk na uitsettingsbevel
- Sakekamer- en Agri-Klein Karoo-kantore skuif
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'