OUDTSHOORN NUUS - Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het Vrydag Oudtshoorn besoek om onder meer die uitsettingsbevel van drie entiteite van Oudtshoorn, die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, Agri Klein Karoo en Oudtshoorn-besigheidskamer, te ondersoek.
Die gebou waarin die entiteite tans is, behoort aan die Oudtshoorn-munisipaliteit, maar word reeds die afgelope 10 jaar deur die CP Nel-museum onderverhuur teen 'n minimale huurfooi.
Volgens Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn, het die museum die geboue reeds in 1975 by die munisipaliteit gehuur teen .10c 'n jaar, maar word die huur nie betaal nie.
Die museum het in 2019 met die uitsettingsproses begin na hulle aanvanklik net die huur wou verhoog. Hulle het egter verlede jaar 'n amptelike uitsettingsbevel gekry van die Kaapse hooggeregshof.
Volgens Macpherson het hy die situasie Vrydag met minister Marais bespreek en sy was nie bewus van die feit dat die museum se raad die drie organisasies uit die een gebou wil sit nie.
"Die minister het egter gesê sy sal werk maak daarvan om die situasie so spoedig moontlik op te los. 'n Verdere punt wat ons met haar bespreek het was die samestelling van die museum se raad en dat dit nie demografies verteenwoordigend is van Oudtshoorn nie en dat die raadslede wat op die museum se raad dien vir 'n geruime tyd nie van vergaderings ingelig word nie." Hy het ook aangevra dat hulle die finansiële state van die museum bekom.
Kangogrotte en Schoemanspoort
Volgens Macpherson het hy ook met minister Marais oor die Kangogrotte en Schoemanspoort gepraat.
"Ten spyte van die pandemie werk ons hard daaraan om die grotte se deure vir toeriste oop te hou. Ons doen wel net die Erfenistoer en die tye is aangepas, maar die grotte is definitief oop vir besoekers." Hy wys daarop dat dit belangrik is om vir toere by die grotte te bespreek.
Die eerste toer is 09:00 en die laaste toer is 16:00. Streng Covid-19-regulasies is van toepassing met elke toer en toere vind 'n halfuur uit mekaar plaas. Bespreek by 082 303 0029 of 066 486 9475 of reservations@cangocaves.co.za.
Macpherson sê hulle het ook met die minister oor die toekoms van die Schoemanspoort-terrein gesels. "Schoemanspoort behoort aan die departement van kultuursake en sport en word reeds jare gebruik om veral skoolgroepe te akkommodeer. Die oord gaan kommersialiseer en ons het die provinsie gevra of die munisipaliteit betrokke kan raak om die terrein optimaal te kan benut."
Die gebou waarin die kantore van Oudtshoorn- en De Rust-toerisme, Agri Klein Karoo en Oudtshoorn Besigheidskamer is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'