OUDTSHOORN NUUS - Die dispuut tussen die Oudtshoorn-munisipaliteit en die CP Nel-museum oor die verhuring van die gebou waar die toerismekantoor is, is steeds nie afgehandel nie.
Die kwessie kom al meer as 'n jaar aan en daar is in Februarie reeds hieroor berig.
Die gebou waarin die toerismekantoor geleë is, behoort aan die munisipaliteit, maar word deur die museum aan toerisme onderverhuur. Die museumgebou is ook die munisipaliteit se eiendom, maar word aan die museum verhuur.
Die museum is reeds lank besig met 'n proses om huurders uit die toerismegebou te sit en die besigheidskamer en Agri-vereniging het reeds na 'n ander perseel verhuis.
Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, het Oudtshoorn in Februarie besoek om duidelikheid oor die situasie te kry, maar sedertdien blyk die museum nog vasbeslote om hulle sin te kry.
Nadat alles vir 'n aantal maande stil was, het die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor egter Vrydag 25 Junie 'n prokureursbrief van die museum se raad van trustees ontvang om te sê dat hulle steeds met die uitsettingsproses voortgaan.
Die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, en minister Marais het Oudtshoorn weer Vrydag besoek om die kwessie tussen die partye te bemiddel.
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan al die betrokke partye gestuur om almal 'n geleentheid te gee om op die kwessie te reageer. Stacy Mclean, woordvoerder van Marais se kantoor, het aangedui dat sy namens die museum, Bredell en Marais se kantore reageer. Volgens haar het die departement van kultuursake en sport se museumdienste-amptenare, Marais, die raad van trustees van die museum en munisipale amptenare vergaderings gehou om duidelikheid oor die kontraktuele aspekte van die perseel waarop die museum geleë is, te kry.
Volgens haar is die huurooreenkoms tussen die munisipaliteit en die raad van trustees, regstappe teen die huurders wat die gebou van die raad van trustees huur en verteenwoordiging van die Vriende van die Museum en die munisipaliteit op die raad tydens die vergadering bespreek.
Die voorsitter van die raad van trustees van die museum, adv. Goodman Jaxa, het egter tydens kommunikasie oor die navraag aangedui dat hy nie tevrede is dat Mclean namens almal reageer nie, omdat hulle nie goedkeuring van die raad af gekry het om dit te doen nie.
Waarnemende direkteur: museums, erfenis en geografiese name, Michael Janse van Rensburg, het egter per e-pos aan Jaxa gesê dat die departement al die nodige verslae van die museum ontvang het, dat hulle goed ingelig is oor al die feite en hy het ook gevra dat die museum enige reaksie op medianavrae aan die departement sal oorlaat.
Na die beriggewing in Februarie, het die CP Nel-museum op hulle Facebook-blad, die media daarvan beskuldig dat hulle "dirty journalism" gebruik. Die plasings is later verwyder.
Mclean sê Marais het tydens die vergadering gesê die ingryping van die departement is daarop gemik om enige verdere finansiële verliese ten opsigte van regskoste in hierdie aangeleentheid te verlig, asook om proaktief te bou tot positiewe betrekkinge tussen die departement, die museum en die munisipaliteit.
Daar is dus besluit dat amptenare van die departement kultuursake en sport en die departement van plaaslike regering 'n heronderhandeling oor die huurooreenkoms tussen die raad van trustees en die munisipaliteit moet bemiddel.
Die munisipale verteenwoordigers vir die museum se raad moet ook aangestel word in ooreenstemming met die vereistes van die museumordonnansie.
Terugvoering oor die aangeleenthede moet einde Augustus gegee word.
Ten spyte van Van Rensburg se versoek dat die museum hulle by reaksies van die departement moet berus het Jaxa op navrae van die Oudtshoorn Courant reageer en gesê dat die gebou waarin die toerismekantoor is in 2014 vir 'n vyf jaar periode teen R600 aan hulle onderverhuur word. Volgens hom het die munisipaliteit nooit toestemming aan die museum gegee om te onderverhuur nie.
Volgens hom het die toerismekantoor, Agri en die besigheidskamer in 2019 gevra om hulle huurkontrak te hernu en die museum het ingestem op voorwaarde dat die huur markverwant moet wees.
"Omdat hulle nie met die huurooreenkoms saamgestem het nie het ons besluit om nie die huurooreenkoms te verleng nie. Die toerismekantoor is 'n privaat entiteit wat 'n bedrag van R600 000 'n jaar van die munisipaliteit ontvang. Ons baklei nie met die munisipaliteit nie en is ook nie van plan om hulle oor die huurkontrak te dagvaar nie. Die munisipaliteit het ook nie belangstelling getoon in die kwessie tussen die museum en die toerismekantoor nie."
Die toerismekantoor
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'