OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Albert Fritz, het Dinsdag die Oudtshoorn skuiling vir haweloses amptelik geopen.
Die skuiling, wat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit en departement maatskaplike dienste opgeknap is, word deur 'n nuutverkose direksie bestuur. Die skuiling is in April 2017 in gebruik geneem.
Die uitvoerende onderburgemeester, Nolothando Mwati, het in die verwelkomingstoespraak gesê: "Daar is vreugde in my hart om te sien dat ons droom bewaarheid is. Mense wat op straat lewe kan nou weer met trots leef." Sy het 'n pleidooi aan Oudtshoorniete gelewer om hande te vat en seker te maak niemand in Oudtshoorn hoef meer op straat te leef nie.
Colan Sylvester, Oudtshoorn se burgemeester, het bygevoeg dat die Oudtshoorn-munisipaliteit die waardigheid van mense in nood weer wil herstel. Hy het dit as 'n gesamentlike projek tussen die departement maatskaplike dienste en die Oudtshoorn-munisipaliteit beskryf.
Fritz het gesê: "Ons as ministers kom net die linte knip. Julle as gemeenskapsleiers en inwoners doen die werk."
Hy het gemaan dat politici nie net projekte moet finansier nie, maar daarop moet konsentreer om probleme op te los. Hy en Sylvester is dit eens dat daar 'n behoefte vir nog soortgelyke skuilings in Oudtshoorn is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'