DE RUST NUUS - Meer as 5 000 malvasteggies, wat die afgelope weke gekweek is, gaan op Maandag 10 Augustus, ’n vakansiedag, in De Rust en Blomnek geplant word.
Dit klink na ’n reusetaak, maar die De Rusters en Blomnekkers is slaggereed vir die groot dag. Dit is die eerste plantdag wat as deel van die Mal’va De Rust-projek gehou word.
Die wêreldbekende landskapsontwerper en plantkundige, Leon Kluge, het Donderdag verskeie areas in De Rust uitgewys waar malvabeddings aangeplant kan word.
“Die enigste uitdaging is dat Leon gesê het ons het hopeloos te min steggies en kort nog omtrent 10 000,” het Marita Serfontein van die Mal’va De Rust-komitee hierdie week gesê.
Volgens haar het die besoek van Kluge en sy sakevennoot, Tristan Woudbarg, die malvaprojek heeltemal op sy kop gekeer en geweldige momentum gegee. Sy sê een van die mees positiewe uitvloeisels van verlede week se besoek was die wyse waarop al die kerke in Blomnek ook betrokke geraak het.
“Nou is dit waarlik ’n gemeenskapsprojek en een van die groot beddings wat aangeplant gaan word, is by die ingang van Blomnek.”
Die tweede groot omwenteling is dat die komitee se planne om ’n malvafees te hou met Kluge se leiding en raad uitgebrei het na die aanbied van ’n volledige nasionale malvaskou. Dit sal die eerste een ter wêreld wees en word vir die tweede helfte van 2027 beplan.
“Leon en Tristan se raad was vir ons goud werd. Daar was eenvoudige goed wat uiters belangrik is en waaraan ons nie gedink het nie. Goed wat hulle uitgewys het wat die projek se sukses sal verseker,” sê Serfontein.
Kluge en Woudbarg het saam met inwoners Meiringspoort en ook die De Rust-koppie verken. Op die koppie het Kluge ’n ander, uiters skaars plantjie ontdek wat volgens hom net in daardie gedeelte van die veld voorkom. Die plantjie met ’n helder pers blom wat maar enkele sentimeter hoog is, is die uiters skaars Babiana Karooica, en moet volgens Kluge ten alle koste beskerm word.
Die groep het met hulle besoek aan Blomnek ook na mense se tuine gekyk en hulle is spesiaal deur Dawid Fortuin na sy huis geneem waar hy met sy tuin gespog het. Volgens Serfontein het Fortuin gesê hy word genoodsaak om ’n heining om sy tuin op te rig om te voorkom dat mense sy blomme kom pluk.
Die Mal’va De Rust komitee hou Donderdagaand, 30 Julie, weer ’n inligtingsvergadering waar hulle die program vir 10 Augustus se plantdag gaan bespreek. Oudtshoorn Courant het ook gehoor daar is gissinge dat ’n reuse-malvabeeldhouwerk by die ingang van De Rust beplan word, maar details daaroor is nog in die beplanningstadium.
Vorige berig
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’