Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn AfriForum-buurtwag het Vrydagaand, 17 Julie, 'n suksesvolle massapatrollie aangebied as deel van AfriForum se landwye veiligheidsinisiatief, waartydens 180 buurtwagte regoor die land gelyktydig gemobiliseer is.
Die aksie het om 17:30 begin. Benewens AfriForum se buurtwag het lede van die Oudtshoorn-polisie, munisipale wetstoepassing, verkeersdienste en die brandweer ook deelgeneem.
Die privaat sektor is deur Ubunthu Security, M Sec Security, Blacklist, Suiderkruis en Alert Patrol verteenwoordig. Kol. Winston Kiewiets, bevelvoerder van die Oudtshoorn-polisie se Vispol-eenheid, het die operasie in samewerking met Christo Cloete, AfriForum Oudtshoorn se veiligheidsvoorsitter, en Ivor Bezuidenhout van die verkeersafdeling gelei.
Volgens Kiewiets speel sulke gesamentlike operasies 'n belangrike rol in misdaadvoorkoming en bekamping, terwyl dit terselfdertyd die sigbare teenwoordigheid van wetstoepassings- en veiligheidsdienste in die gemeenskap versterk.
Om 18:00 het 'n konvooi van 49 veiligheids-voertuie met 71 deelnemers vanaf die versamelpunt by die ingang van die Calitz-dorp-pad vertrek.
As deel van die operasie is die buurtwag-patrollies en reaksie-eenhede van Ubunthu Security Tactical Response en M Sec Security deur tweerigtingradio's verbind om doeltreffende kommunikasie en samewerking deur die nag te verseker.
Die fokus was hoofsaaklik op bekende misdaadbrandpunte en gebiede waar verhoogde sigbaarheid benodig is.
Volgens Donovan Kleinhans van AfriForum het die buurtwag gedurende die nag altesaam 296,6 km gepatrolleer en 22 verdagte persone of situasies hanteer.
"Onder die voorvalle was die aanhouding van 'n verdagte met vermoedelik gesteelde goedere naby Van Reede Laerskool deur Ubunthu Security en M Sec Security, die verwydering van drie onregmatige betreders van 'n privaat eiendom in Russtraat, asook die aanspreek en ontruiming van verskeie persone by die taxistaanplek en ander dele van die sakekern. In 'n afsonderlike voorval het 'n verdagte wat glo dwelms gebruik het, volgens AfriForum vrywillig 'n tuisgemaakte steekwapen aan patrollielede oorhandig."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’