OUDTSHOORN NUUS - Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) het Saterdag 25 Julie sy jaarvergadering gehou waartydens lede en belangstellendes die geleentheid gehad het om meer oor verskeie historiese bakens in Oudtshoorn te leer.
Die dag se verrigtinge het by Pinehurst begin, waar deelnemers meer te hore gekom het oor die geskiedenis van dié bekende volstruispaleis, die Edmeads-familie en Olivier Towers, die indrukwekkende herehuis wat eens oorkant die straat gestaan het.
Die aanbiedings is deur die plaaslike geskiedkundige Hazel Jonker, HOE se uittredende voorsitter, Carol Jeal, en Christo Smit gelewer.
Die groep het daarna St. Jude's Anglikaanse Kerk besoek, die oudste sand-steengebou in Oudtshoorn.
Jonker het die geskiedenis van die kerk toegelig, waarna eerw. Stephanie Smit meer vertel het oor die onlangse restourasie van die gebou en die belangrikheid daarvan om hierdie waardevolle erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar.
Die algemene jaarvergadering van HOE is daarna in die kerk gehou. Die dag is op 'n besondere noot afgesluit toe Ockert du Pisanie die gehoor op die kerk se historiese orrel vermaak het.
Die orrel, wat as een van die oudste werkende orrels in Suid-Afrika beskou word, het 'n gepaste afsluiting gebied vir 'n dag waarop Oudtshoorn se ryk geskiedenis en kulturele erfenis gevier is. Die orrel is deur Rushworth van Liverpool in 1810 gebou en is vir 190 pond aangekoop en in 1883 geïnstalleer.
Die orrelkamer is in 1887 in gebruik geneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’