Update
DYSSELSDORP NUUS - Die verdrinking van die 9-jarige Rhodesia 'Jonalien' Gelant in 'n kanaal het Sondag skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap en die streek gestuur.
Gelant se maatjie, Dareldine 'Minatjie' Stalmeester (10), wat saam met haar in die kanaal beland het, kon gelukkig betyds deur vier mans uit die sterk stroom gered word.
Wildene Stalmeester (13), een van die meisies wat teenwoordig was ten tyde van die tragiese voorval, het in die teenwoordigheid van haar ma aan Oudtshoorn Courant gesê dat sy, Jonalien en haar niggie Minatjie, op pad huis toe was toe hulle besluit het om by die kanaal te gaan speel.
"Ons wou met ons voete toets of die water warm of koud is. Ons het op die rand van die kanaal gesit toe Minatjie ingeval het. Jonalien het toe ingespring om haar uit te haal. Dis toe dat sy in die kanaal af gedryf het. Op daai oomblik het die ooms gekom en Minatjie gered."
Volgens een van die helde wat Minatjie gered het, David September, was hy net na tienuur na sy familie op pad toe hy kinders by die kanaal hoor gil het. "Ek het dadelik die bult by die kanaal uitgedraf om te kyk wat aangaan. Toe ek bo kom was twee jong meisies in die water. Ek het plat op my maag langs die kanaal gelê om een van die kinders te red. Die ander meisie was ongelukkig buite ons bereik en ons het al langs die kanaal gehardloop om haar te probeer red, maar die stroom was te sterk. Sy het onder die eerste bruggie verdwyn en dis die laaste dat ons haar gesien het," het 'n emosionele September gesê.
Die Stompdrift-Kammanassie Watergerbruikersvereniging (SKWGV) het die watertoevoer onmiddellik afgesluit terwyl die soektog na Jonalien aan die gang was.
Die kanaal was sedert verlede Maandag vol water wat vanaf die Stompdriftdam tot by Warmbad naby Calitzdorp afgevoer word.
In 'n verklaring het die SKWGV hierdie week die noodlottige voorval betreur en aangedui dat die heinings wat opgerig is om die kanaal te beveilig asook die sifoonsiwwe, onregmatig verwyder is.
Die heinings en siwwe is al vervang, net om weer te verdwyn.
Die SKWGV sê dat die gemeenskap en polisie telkens vooraf in kennis gestel word as daar water in die kanaal sal vloei en wanneer daar water is, word 'n wag ook ontplooi om die gedeelte van die kanaal bokant Dysselsdorp te patrolleer. Dit is nie duidelik waar die wag was ten tyde van Sondag se voorval nie.
Terwyl polisieduikers gereed gemaak het om onder die brug waar Jonalien verdwyn het, na haar te soek, is haar liggaam sowat tien kilometer stroom af ontdek waar sy teen 'n sif onder 'n bruggie vasgespoel het.
Jonalien, 'n leerder verbonde van Dysselsdorp Primêr, was in pleegsorg van haar ouma, Katrina Jansen, omdat haar eie ma die familie reeds ontval het.
Die begrafnis sal volgens Jansen in alle waarskynlik die naweek reeds gehou word.
"Ons sal Jonalien as 'n slim, aktiewe en spraaksame kind onthou. Haar energie in ons huis sal gemis word," het 'n bedroefde Jansen gesê.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is 'n geregtelike doodsondersoekdossier vir verdere polisieondersoek geopen. Die ondersoek duur voort.
Omstanders drom saam waar Jonalien verdwyn het. Foto: Wyndham Ewerts
Rhodesia 'Jonalien' Gelant. Foto verskaf
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'