Update
OUDTSHOORN NUUS - Die persoon wie se liggaam voorverlede Sondag, op 'n besigheidsperseel in Dassieweg gevind is, is deur honde doodgebyt.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het Maandag bevestig dat 'n lykskouing, wat verlede week gedoen is, bevind het dat die man as gevolg van die byt van honde omgekom het.
Hy het ook die identiteit van die oorledene as die 21-jarige Dawid Thomas bevestig.
Volgens 'n verklaring wat verlede week deur Visser uitgereik is, is die polisie op 2 Mei na die perseel van Maxi's Superette (voorheen Watson's Superette) ontbied nadat 'n liggaam deur die eienaar ontdek is. Paramedici het die man op die toneel dood verklaar.
Daar is verlede jaar 'n hoë muur aan die agterkant van die besigheid opgerig, maar Thomas het op een of ander manier toegang tot die perseel gekry waar hy deur die honde aangeval is.
Die hoë muur is opgerig nadat nog 'n liggaam verlede jaar naby die perseel ontdek is. Die bebloede liggaam van 'n man is net buite die besigheidsperseel ontdek en gerugte dat honde vir sy dood verantwoordelik was, is deur 'n lykskouing weerlê.
Die eienaar van die onderneming wou met die jongste voorval nie met Oudtshoorn Courant praat nie en het net gesê sy kollega het die liggaam ontdek. Die polisie se verklaring meld nie of 'n klag ondersoek word nie.
Vorige artikels:
- Man deur honde doodgebyt
- Liggaam agter winkel gevind
- Liggaam gevind in Dassieweg
- Nuutste oor liggaam in Dassieweg
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'