OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn het verlede Donderdagoggend met skok gereageer oor die nuus dat 'n liggaam die betrokke oggend op die oop stuk veld langs die Oudtshoorn-munisipaliteit se depot in Dassieweg gevind is.
Die oorledene se liggaam, wat intussen deur familielede as George 'Pappa Fix' Pietersen (69) geïdentifiseer en amptelik uitgeken is, is volgens die Oudtshoorn-polisie omstreeks 08:00 deur twee mans gevind wat op pad werk toe was.
Met Oudtshoorn Courant se aankoms op die toneel het omstanders bespiegel dat die oorledene deur honde van 'n nabygeleë supermark verskeur is.
Jonathan Moos, familielid van Pietersen het egter dié weergawe verwerp en gesê dat die liggaam "met hande" gedra is na die plek waar die polisie die liggaam gevind het.
Volgens Moos blyk dit dat sy oom geroof en toe met 'n skerp voorwerp gesteek is, wat tot sy dood gelei het.
"Dis duidelik dat die misdadigers my oom se liggaam wou wegsteek.
"Ek is oortuig dat dit die rede is hoekom hy amper 20 meter ver gedra is vanaf die groot plas bloed waar hy oorspronklik gelê het. Hy was so 'n liewe mens wat nie verdien het om so te sterf nie. Ek werk self by die supermark en kan met alle eerlikheid sê dat die honde nog nooit oor die draad gespring het nie omdat hulle in elk geval nie so groot is nie," het 'n emosionele Moos gesê.
Pietersen se seun, Colin Bennie, het sy pa as 'n grappige persoon beskryf wat nie 'n gewelddadige been in sy liggaam gehad het nie. "Ons kan net hoop dat geregtigheid sal geskiet sodat die skuldiges vir hul afskuwelike dade kan boet."
Die begrafnis is Saterdag om 10:00 by die huis te Sieringhof 625, Bridgton. Pietersen laat sy seun Colin Bennie en dogter Charmaine Minnies agter.
By navrae het Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, aangedui dat 'n geregtelike doodsondersoek gedoen sal word.
Lede van die forensiese eenheid op die toneel.
Jonathan Moos wys waar die plas bloed is waar die liggaam gelê het voordat dit sowat 20 meter verskuif is.
Vorige artikel: Nuutste oor liggaam in Dassieweg
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'