Update
OUDTSHOORN NUUS - Die polisie is Sondag verwittig van 'n liggaam wat agter 'n supermark in Dassieweg gevind is. Die supermark, wat vroeër as Watson's Superette bekendgestaan het, dryf nou handel onder die naam Maxis.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die voorval om 12:56 plaasgevind. Uit die verklaring is dit nie duidelik of die voorval waarin die persoon dood is om 12:56 plaasgevind het, en of die polisie toe ontbied is nie.
Volgens Visser is die liggaam op die perseel gekry en die persoon is deur paramedici dood verklaar.
Visser het ook bevestig dat honde op die perseel gekry is, maar dit is nie duidelik of hulle betrokke was by die persoon se dood nie.
'n Lykskouing sou Dinsdag uitgevoer word. Volgens Visser was die identiteit van die man teen Dinsdag nog nie bekend nie.
Verlede jaar in November is nog 'n liggaam aan die agterkant van dieselfde besigheidsperseel ontdek.
Dié liggaam was egter aan die buitekant van die perseel.
Gerugte dat die persoon in November deur honde doodgebyt is, is weerlê toe 'n nadoodse ondersoek bevestig het dat die beserings waaraan die persoon beswyk het, nie deur honde toegedien was nie. Na daardie voorval is 'n hoë muur aan die agterkant van die perseel gebou.
Dit is nie duidelik of die persoon, wie se liggaam Sondag gevind is, oor die muur toegang tot die perseel verkry het nie.
Die eienaar van die besigheid, wou nie Sondag enige vrae van Oudtshoorn Courant oor die voorval beantwoord nie. Hy het net gesê sy vennoot het die liggaam ontdek.
Vorige artikel: Nog 'n liggaam by besigheidsperseel
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'