OUDTSHOORN NUUS - "Die wonder van woorde/The magic of words" is die tema van vanjaar se Prince Albert Leesfees (1 tot 4 November) - nie net omdat woorde boeke se basis is nie, maar ook omdat daar soms ónder die woord-oppervlak verskuilde betekenisse en onuitgesproke gevoelens lê.
Van Suid-Afrika se bekendste skrywers gaan op vanjaar se fees vertel hoe die régte woorde help om 'n karakter geloofwaardig te ontwikkel. Deon Meyer gaan met mede-misdaadromanskrywer Bettina Wyngaard gesels hoe hy 'n hele Bennie Griessel-bedryf met woorde gebou het. Sy jongste roman, Prooi, word ook bespreek.
Die ander spanningsverhaalskrywers wat vanjaar optree is Jo Nel van Mosselbaai met sy debuutwerk Die hond wat ophou blaf het en Martin Steyn met Losprys.
In die poësie is woorde die basis van 'n betekenis- en struktuurspel, volgens die digters Jolyn Phillips en Clinton du Plessis. En Ingrid Jonker het dekades gelede woorde perfek verweef om briljante gedigte te skryf, volgens haar biograaf Petrovna Metelerkamp. Maar dit was ook die kwetsende woorde van die skrywer André P. Brink wat Ingrid die seerste gemaak het.
Kom luister hoe die voormalige aktivis en nou polisiegeneraal Jeremy Vearey vertel van sy grootwordjare waarin sy moedertaal Kaaps was en die taal van bendes die boustene van sy werklikheid.
Dennis Cruywagen se The Spiritual Mandela en Lukhanyo en Abigail Calata, met My Father Died for This gaan praat oor die uitwerking wat die woorde van die ikone Nelson Mandela en Fort Calata op die land gehad het. Elsa Winckler ('n Brief vir Reina) se woorde het 'n religieuse inslag, terwyl Chris Marais en Julie du Toit (Moving to the Platteland) se Karoo-kennis gebou is op 'n begrip van die taal van die Karoo.
Karin Cronjé (There goes English Teacher) moes in haar skoolhoujare in Suid-Korea gewoond raak aan die Engels van dié land se mense wat soms vreemd op die oor val, terwyl Johannes de Villiers (Stilte in die malle gejaag – mindfulness vir besige mense) se lewensbenadering is dat stilte en stilbly soms beter is as 'n oormaat woorde.
In die boeke van André le Roux is woorde die as waarom sy "karakters" draai. Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) vertel hoe mans gereeld die verkeerde ding sê, en Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste se bevinding is dat dié mense se grootste wapen woorde is waarmee hulle jou eers aanlok en dan vernietig. Saam met hom tree die joernalis Julian Jansen op wat die hofgetuienis van die gesinsmoordenaar Henri van Breda eerstehands ervaar het – 'n jong man wat homself probeer loslieg het met die verdraaiing van die waarheid. Uiteindelik was dit sy eie woorde wat hom agter die tralies gesit het.
Prince Albert Leesfees-App vir alle inligting en besprekings
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'