DYSSELSDORP NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vandag aangekondig dat die munisipaliteit Katriena Lewie groet na 'n loopbaan van 34 jaar en nege maande as bibliotekaresse van die Dysselsdorp-biblioteek.
Volgens 'n persverklaring, uitgereik deur woordvoerder Aurelia Mle, het Lewie diens op 3 Januarie 1989 aanvaar en is aangestel deur die destydse Afdelingsraad. Sy het reeds op 31 Oktober klaargemaak.
Volgens Mle het Lewie gedurende haar indrukwekkende loopbaan die Dysselsdorp-biblioteek met toewyding bedryf. Tydens haar tydperk by die biblioteek het sy dit skoongemaak, boeke weggepak en ook seker gemaak dat die biblioteek tussen 09:00 en 13:00 en vanaf 14:00 tot 18:00 daagliks oop is. Dit is 'n getuienis van haar passie en toewyding tot die gemeenskap en bestuur van die biblioteek.
Die verklaring lui verder dat Lewie nie net 'n bibliotekaresse was nie, maar ook 'n gemeenskapsbouer van formaat. Sy was ook betrokke by uitreikingsprogramme en het elke ses maande 'n groep bejaardes na die weermag vergesel vir storievertellings en sangkompetisies. Hierdie betrokkenheid het ook uitreikingsprogramme met skole ingesluit.
Lewie het ook 'n reputasie vir die samestelling van interessante en indrukwekkende uitstallings oor bewusmaking van aktuele kwessies, alledaagse sake, gesondheidskwessies, maatskaplike uitdagings en wêreldnuus.
Sy het ook toerisme-bemarking vanuit die biblioteek behartig, wat sy met buitengewone oorgawe en betrokkenheid gedoen het.
In Januarie 2005 het sy 'n aangrypende bydrae gemaak deur die Vanfijfeiken-speelgoedbiblioteek by die Dysselsdorp-biblioteek te help stig.
"Haar doelgerigtheid het daartoe gelei dat die speelgoedbiblioteek op 24 Mei 2005 geopen is. Gedurende 'n groot deel van haar loopbaan het sy 17 jaar alleen in die biblioteek gewerk, totdat Chanel Klaassen in 2007 as biblioteekassistent aangestel is deur middel van die Conditional Grant-program," het Mle bygevoeg.
'n Verdere mylpaal in haar loopbaan was toe die biblioteek in 2009 gerekenariseer is. Dit het 'n nuwe uitdaging vir haar meegebring, aangesien sy self nie oorspronklik oor rekenaargeletterdheid beskik het nie. Sy het hierdie geleentheid aangegryp om haarself te bemagtig en kan sy vandag lede van die publiek ook leer. Gedurende 'n groot deel van haar loopbaan het sy ook die pos as voorsitter van die Oudtshoorn-biblioteekforum met waardigheid en leierskap beklee.
Lewie was volgens Mle nie net 'n bibliotekaresse en gemeenskapsbouer nie, maar het ook 'n uitstaande bydrae gelewer as vakbondverteenwoordiger, vir die regte van vroue in die werksomgewing.
"Chris Macpherson, die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, Walter Hendricks, munisipale bestuurder, Noel van Stade, direkteur: gemeenskapsdienste, Deidre Carelse, bestuurder: biblioteekdienste, die raad en alle munisipale amptenare wens haar 'n vreugdevolle en geseënde aftrede toe," het Mle bygevoeg.
"Haar inspirerende leuse in die biblioteek, 'GEBRUIK EN HERGEBRUIK', sal vir altyd voortleef en 'n baken van wysheid bly wat ons voortdurend sal herinner aan haar bydrae aan ons gemeenskap."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’