OUDTSHOORN NUUS - Die Breede Rivier H.O.G. Chapter, 'n Harley Davidson-klub, het vanaf 25 tot 28 Augustus 'n saamtrek in Oudtshoorn gehou.
Die byeenkoms het by Klein Plaas-vakansieoord plaasgevind en verskeie aktiwiteite soos, 'n Poker Run en massarit was deel van die naweek se pret. Volgens Madelein Todd, sekretaresse van die Breede Rivier H.O.G. Chapter, was dié naweek weer 'n reusesukses.
Todd vertel dat die ryers jaarliks in Oudtshoorn bymekaar kom en altyd 'n besoek aan Helen Bellinghanhof-tehuis vir bejaardes aflê. Hierdie jaar is die inwoners van dié tehuis met koffie, tee en koek deur die ryers bederf.
"Die wintersaamtrek gaan oor die ervaring, wanneer motorfietsryers vanoor die land die rit aflê, om hier bymekaar te kom. Ons kuier om kampvure, gesels met ou vriende en maak nuwe vriende. Ons geniet die mooi omgewing. Vrydagaand het ons ook 'n vertoning van die groep, Eclipse, geniet terwyl ons gekuier het," vertel Todd.
Tydens die naweek het meer as 80 Harley Davidson-entoesiaste die wintersaamtrek bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'