OUDTSHOORN NUUS - Die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub in die Wes-Kaap het Saterdag in samewerking met Proudly Meerkat Suid-Kaap en die ondersteuning van verskeie motorfietsklubs in die Suid Kaap vir 'n dag se opwinding by die Eljada Kairos skool vir gestremde kinders gesorg toe hulle twee watertenks, kompos, groente- en grassaad asook sporttoerusting aan die skool geskenk het. Die kinders is ook met worsrolletjies en koeldrank bederf.
"Alle eer kom Jesus toe want dit is waarvoor ons staan en kinders, julle is spesiaal vir Jesus," het Corrie van der Westhuizen, Wes-Kaapse president van die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub aan die kinders gesê.
Volgens Van der Westhuizen besluit die klub jaarliks waar hulle 'n helpende hand kan uitreik.
Hulle het gehoor van die skool wat graag gras op hul sportterrein wil aanplant en ook sporttoerusting benodig. Volgens Van der Westhuizen het die geld vir die aankoop van die watertenks, kompos en saad uit die lede se sakke gekom.
Lede van die motorfietsklubs, Warlocks (Suid-Kaap), Undisputed (Mosselbaai), Excalibur en Crusaders (George) het sporttoerusting aan die skool geskenk.
"Dis hoe dit werk. Die motorfietsklubs ondersteun mekaar met sulke gemeenskapsprojekte," het Van der Westhuizen gesê.
Volgens NC Keyser, organiseerder van die projek, Garden Run, 'n eerste van sy soort, strewe Solidariteit Helpende Hand na Christenskap en is a-polities.
Die adjunkhoof van Kairos, Henry Calitz, het Solidariteit Helpende Hand en die motorfietsryers namens die skool bedank.
Volgens Marilise Labuschagne, Suid Kaapse areabestuurder van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike been, is hulle tans besig met 'n vraelys om die behoeftes in elke dorp in die Suid-Kaap te bepaal en deur middel van projekte uit te reik na gemeenskappe waar hulp nodig is.
Vir enige bydrae of inligting geskakel Labuschagne by 071 390 7766.
Lede van die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub in die Wes-Kaap en ander motorfietsklubs in die Suid-Kaap saam met die leerders en van die personeel van Eljada Kairos. Foto: Garnett Wicomb
Sporttoerusting wat aan die skool geskenk is.
Motorfietse en leerders op die skoolterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'