Update
OUDTSHOORN NUUS – ACVV Huis Triomf, 'n kinder- en jeugsorgsentrum in Wagenaarstraat, Oudtshoorn, het in die afgelope jaar opslae gemaak – eers met sprake dat die deure van die kinderhuis finaal gaan sluit en toe weer dat die deure gaan oopbly.
Huis Triomf het die afgelope paar maande aan verskeie deure gaan klop, in die hoop dat hulle die kinderhuis moontlik kon skuif na 'n area wat meer "kindervriendelik" sou wees.
FOTOGALERY: Huis Triomf kry nuwe voorkoms en naam
Huis Triomf, of Elroi-kinderhuis soos dit van volgende jaar af bekend gaan staan, ondergaan tans ‘n totale gedaanteverwisseling.
Volgens Roelof Kwant, pastoor by Barn Christian Fellowship in Johannesburg en ook aan die stuur van die veranderinge by Huis Triomf, vertel dat daar ongelukkig geen geskikte perseel gevind is om heen te skuif nie en daar moet nou die beste gemaak word met wat daar is.
"Daar word vier fases beplan om opgradering en ondersteuning aan Huis Triomf te bied.
Die geld vir die veranderings wat tans aangebring word, word verkry uit die fondsinsameling wat Barn Christian Fellowship ten bate vir ACVV Huis Triomf, gehou het. Baie van die veranderings word ook gedoen met skenkings van verskeie besighede.
Eerste fase - personeel
Kwant en sy vrou Carol, vertel dat hulle tevrede is met die personeel wat tans in diens van Huis Triomf is en dat hulle beplan om leiding aan die personeel te voorsien.
Tweede fase - gebou
Verskeie besighede het skenkings en/of afslag gegee om die verbeterings aan te bring - Easylife Kitchens in George, gaan die hele kombuis oordoen en alles vervang, Timbercity en Build it in Oudtshoorn het skenkings, sowel as afslag op sekere aankope gegee.
Tans word die gebou se verbeterings in fases opgedeel en beplan Kwant en sy span om voor die einde van die jaar alle werk in die gebou te voltooi.
Daar word tans op die kombuis, spens, was-, eet-, en badkamer gefokus. Die vensterrame in dié areas sal met aluminiumvensters vervang word en nuwe teëls sal gelê word.
Derde fase en vier - programme
Fase drie is die hersiening van die kinders se programme om hulle te stimuleer en te onderrig.
Fase vier sal die aanbring van sportgeriewe, ontspanningslokale en ‘n muur rondom Huis Triomf insluit.
Roelof is baie positief oor die veranderinge en nooi die groter Oudtshoorn uit om deel te vorm van Huis Triomf.
"Ons wil Oudtshoorniete betrek wat basiese en groot take kan verrig," nooi Kwant uit. Ons vra ook die gemeenskap om, wanneer hulle skenkings aan die kinderhuis maak, eers te hoor of daar ‘n behoefte na die item/s is, want daar is dalk ‘n groter behoefte na dit op ‘n ander plek.”
Die gewerskaf by Huis Triomf behoort volgens Kwant voor die einde van die jaar voltooi te wees.
Naamverandering van ACVV Huis Triomf
"Vanaf volgende jaar sal ACVV Huis Triomf as 'Elroi, in association with ACVV and The Barn', bekendstaan en is die nuwe naam klaar geregistreer. Elroi beteken, ‘God wat ons sien’, vertel Kwant.
Volgens Kwant word daar nog aan die ontwerp gewerk en Charl Meyer, eienaar van Proworx het klaar ingestem om die nuwe naambord aan hulle te skenk.
Die vooraansig van ACVV Huis Triomf.
Wat is Oudtshoorn-munisipaliteit se opinie rakende die veranderinge?
Die gebou waarvan ACVV Huis Triomf tans gebruik maak is die eiendom van Oudtshoorn-munisipaliteit en volgens Hannes Visser, media- en kommunikasiebeampte in die kantoor van die burgemeester, ondersteun die munisipaliteit alle verbeterings en veranderings wat in oorleg met die munisipaliteit deur die privaat inisiatief aangebring word.
Volgens Visser was daar ‘n vergadering met Roelof Kwant en Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn, wat verbind is tot die bestuur van Huis Triomf. Daar is gesels oor alternatiewe persele wat moontlik geskik sou wees, maar die slotsom was dat die huidige perseel die enigste een is wat tans aan die behoeftes van die kinderhuis voldoen.
“Daar word gekyk na bykomstige geboue op die terrein wat as ontspanningslokale vir die kinders kan dien en ‘n groentetuin word tans aangelê.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het ook gesprekke met die eienaars van die omliggende besighede gevoer om te kyk tot watter mate hulle ook samewerking kan gee om die omstandighede by Huis Triomf te verbeter. “
Visser noem ook die volgende in belang van die berig:
- Die eiendom word tans aan die raad van Huis Triomf verhuur teen ‘n tarief wat met hulle ooreengekom is. Omdat Huis Triomf as ‘n niewinsgewende organisasie geregistreer is, kom hulle in aanmerking vir munisipale vergunnings wat ook aan ander niewinsgewende organisasies (NWO’s) gebied word.
- Alhoewel die burgemeester persoonlik baie moeite doen om die omstandighede en infrastruktuur van Huis Triomf deur samewerking met organisasies te verseker, vertrou hy dat die projek ondersteuning sal geniet, ongeag die samestelling van die raad.
ACVV se rol in Huis Triomf (Elroi-kinderhuis) se toekoms
Oudtshoorn Courant het ook ACVV gekontak om te hoor wat hulle betrokkenheid by ACVV Huis Triomf (Elroi-kinderhuis) sal behels in die toekoms.
Eunice Strydom, streekbestuurder van ACVV Klein-Karoo, bevestig hul volgehoue betrokkenheid by ACVV Huis Triomf en noem dat takke wat by die ACVV-hoofbestuur geaffilieer is, die beskerming van die moederliggaam geniet.
Elke tak is ‘n regsentiteit op sy eie, wat beteken die tak as die werkgewer van personeel optree. ACVV-streekbestuurders funksioneer as vakkundige toesighouers oor kinderbeskermingsdienste, kinderwetaangeleenthede en enige maatskaplike werkverwante aangeleenthede. Maatskaplike werkers rapporteer dus direk aan streekbestuurders.
Die voorsitter, pastoor Roelof Kwant, het bevestig dat die kinder- en jeugsorgsentrum ‘n naamsverandering sal ondergaan en voortaan as “Elroi, in association with ACVV and The Barn”, bekend sal staan.
Volgens die wysigings op die Kinderwet, 38 van 2005, mag kinder- en jeugsorgsentrums en groeppleegsorg slegs onder die vaandel en beskerming van ‘n toegewysde kinderbeskermingsorganisasie bedryf word.
Vorige artikels:
- Vakansieprogram hou jeug besig
- Vordering met Huis Triomf
- Nuwe hoop vir huis Triomf
- Huis Triomf se deure bly oop
- Huis Triomf moet sluit
Die eetkamer soos dit nou lyk - dit word heeltemal oorgeteël en geverf. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'