OUDTSHOORN NUUS - Daar was die afgelope week goeie nuus vir ACVV Huis Triomf, die kinder- en jeugsorgsentrum in Wagenaarstraat wat aan die einde van die maand sou sluit.
Die ingryping van weldoeners gaan toesien dat die sentrum se deure eers kan oop bly.
Dit was die boodskap van Eunice Strydom, streekbestuurder vir ACVV-beskermingsdienste in die Klein-Karoo, na Oudtshoorn Courant einde Julie berig het dat die sentrum weens finansiële uitdagings moet sluit.
Alie Killian, Huis Triomf se tesourier, het in Julie gesê hulle sukkel al vir jare met die finansies.
"Die gebou is ook 'n groot probleem. Die gebou is op 'n baie onveilige plek in die dorp en ver van die kinders se skole en kerke. Die gebou is ook meer as 60 jaar oud en dit beteken dat die huis as 'n erfenisgebied verklaar is. Instandhouding aan so 'n gebou is konstant, duur en uitdagend van aard."
Volgens Strydom hoop hulle nog om 'n nuwe gebou te kry, maar hulle is uiters dankbaar dat die sentrum se deure gaan oop bly en steeds dienste aan die gemeenskap kan lewer.
"Daar is diep dankbaarheid teenoor die Barn Christian Fellowship, in Johannesburg, wat onderneem het om die sentrum finansieël by te staan. Huis Triomf het waardering vir die twee mans wat spesiaal Oudtshoorn toe gekom het om met die bestuur van die sentrum in gesprek te tree, moontlikhede op te weeg en assessering van die sentrum te kom doen. Huis Triomf bedank ook mense in die Oudtshoorn-gemeenskap wat na vore getree het om hul ondersteuning aan die sentrum te bied," het Strydom in 'n verklaring gesê. Huis Triomf is gestig om kinders in maatskaplik moeilike situasies te help.
Volgens Strydom het pastoor Roelof Kwant en Nick Maritz van Huis Triomf se benarde situasie in die media gelees waarna hulle die sentrum gekontak het om hulp aan te bied. Die Barn Christian Fellowship doen al vir jare uitreikwerk na onder andere Mosambiek, Malawi en Botswana.
"Ons het verskeie individue en instansies gekry wat ons gekontak het om hulp te verleen. Daar is tot mense in Kaapstad wat bereid is om fondsinsamelings vir Huis Triomf te doen. Ons langtermyn doelwit is egter nog steeds om 'n ander gebou te bekom."
Strydom sê daar is tans 26 seuns tussen die ouderdomme van agt en 18 jaar wat in Huis Triomf woon. Indien hulle huishoudelike situasies verbeter en maatskaplike dienste daarmee saamstem kan hulle teruggaan huis toe. Die sentrum huisves kinders van onder meer Beaufort-Wes, Merweville, De Rust, Dysselsdorp, Oudtshoorn, Laingsburg, Ladismith en Albertinia.
"Dit is die enigste kinder- en jeugsorgsentrum in die hele Klein- en Sentraal-Karoo (Westelike Provinsie) en bied 'n onontbeerlike diens in die streek."
Strydom sê die personeel van Huis Triomf is toegewyd in hul werk en elke kind wat aan die sentrum toegewys word.
"Die maatskaplike werker doen terapie om herhaalde trauma aan te spreek. Ons kinders is stukkende mensies wanneer hulle by die sentrum aankom. Hulle ontwikkel in seuns wat trots is op hulself. Daar is talle suksesstories wat ACVV Huis Triomf kan deel. Ons leerders presteer ook op sport- en akademiese gebied."
ACVV Huis Triomf doen 'n beroep op die Klein Karoo-gemeenskap om betrokke te raak, nie net finansieël nie, maar op enige manier wat mense hul kundigheid en omgee wil deel.
"Sonder die gemeenskap se bystand is dit onmoontlik om hierdie diens te lewer. Mense wat as vrywilligers by die seuns betrokke wil raak, moet ingevolge die Kinderwet polisieklarings bekom en hul name moet teen die kinderbeskermingsregister geklaar word."
Enigiemand wat skenkings wil maak of op 'n manier by die sentrum betrokke wil raak kan Crystal Muller, by 044 272 3234 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'