Update
OUDTSHOORN NUUS - "Ons wil nie weer hoor dat Huis Triomf moet toemaak nie. Ons is hier om dit met alles in ons te keer."
So sê Roelof Kwant, pastoor van Barn Christian Fellowship, wat ongeveer sewe maande gelede by ACVV Huis Triomf betrokke geraak het.
ACVV Huis Triomf is 'n kinder- en jeugsorgsentrum in Wagenaarstraat, Oudtshoorn, wat na kinders omsien wat weens wetlike redes nie by hulle huise geakkommodeer kan word nie. Huis Triomf kan tot 30 kinders huisves.
Oudtshoorn Courant het in Julie verlede jaar berig dat die sentrum gaan toemaak as gevolg van finansiële druk en onvoldoende staatsubsidies, maar die Barn Christian Fellowship, 'n kerkgroep in Gauteng, het van die hartseer situasie gehoor en onderneem om dié kinder- en jeugsorgsentrum finansieel by te staan.
Sedertdien woeker hulle behoorlik om 'n verskil in die kinders se lewens te maak.
Kwant het verlede Donderdag tydens 'n onderhoud met die media gesê dat hulle in die laaste drie maande R600 000 vir die sentrum kon insamel."
Wat hartseer is, is dat die fondse wat ons insamel nie uit Oudtshoorn of die streek kom nie. Dit is immers die Karoo se kinders wat hier gehuisves word. Die punt bly egter dat ons die omstandighede van dié kinders moet verbeter."
Volgens hom het hulle die bestuur van die sentrum reeds verander en het hulle ook nou 'n finansiële bestuurspan wat na die finansies omsien.
"Dit is vir ons belangrik dat die mense daar buite weet daar is besondere streng maatreëls rondom die gebruik van die geld en wie dit mag gebruik en waarvoor."
Kwant sê egter, wat vir hom steeds die belangrikste is, is die verblyf van die kinders.
"Die gebou waarin hulle nou tans is, is nie op standaard nie. Ons kan nie verwag om 'n verskil in kinders se lewens te maak as die gebou waarin ons hulle laat woon nie veilig genoeg is nie."
Volgens hom het die Oudtshoorn-munisipaliteit gesê dat hulle sal kyk na geskikte persele vir die kinders.
Kango-bergoord
"Ek het Donderdag tydens die raads-vergadering 'n voorlegging aan die raad gedoen rakende die verblyf en moontlike persele.
"Op die stadium kyk ons na Bergoord buite die dorp. Ons sal vervoer moet reël vir die kinders om skool toe te gaan, ons sal ook ekstra veiligheidsheinings ensovoorts moet kry.
"Die ander uitdaging is opvangs, want daar is nie sein vir selfone nie, maar dit is als goed waaraan ons iets kan doen."
Volgens hom sal dit ook net 'n tydelike situasie wees tot hulle 'n permanente gebou kan kry.
Ontwikkeling van kinders
Kwant sê hulle wil ook meer op die ontwikkeling van die kinders fokus.
"Ons wil die personeel wat tans daar is op kursusse stuur dat hulle kan help met die ontwikkeling. Langtermyn sal ons ook graag die kinders 'n ambag wil aanleer en die basiese vaardighede soos hoe om 'n muurprop te herstel."
Kwant sê ook hulle groot droom is om die sentrum so uit te brei dat dogters ook verblyf by hulle kan hê.
"Ons wil nie hê boeties en sussies moet geskei word nie."
Kwant sê hy hoop dat meer mense in die dorp by die kinders betrokke sal word.
"Hier is so baie kundige persone wat ons kinders iets kan leer. Mens hoef nie altyd geld te gee om te belê in 'n projek nie. Jou tyd is soms baie meer werd. Ons hoop ook om die kerke, pastore en predikante betrokke te kry."
So sê die munisipaliteit
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, word die sentrum ook deur die Wes-Kaapse departement maatskaplike ontwikkeling gefinansier.
"Daar word tydelik gekyk na die Kango-bergoord en dalk kan die kinders na die Bridgton Chalets skuif vir 'n meer permanente woning."
Mle sê verder dat 'n ad hoc-komitee saamgestel is wat teen einde Mei aan die raad moet terugvoering gee. Die komitee bestaan uit agt raadslede en een amptenaar per direktoraat en 'n amptenaar van die regspan. Die span word deur burgmeester, Chad Louw, gelei.
Volgens Mle gaan Louw met die departement van sport en kultuur kontak maak om nog finansiering vir die sentrum te kry.ACVV Huis Triomf LINKS: Roelof Kwant en Suné Rupping wat tans op die bestuur van ACVV Huis Triomf dien. Foto's: Hannes Visser
Vorige artikel: Nuwe hoop vir huis triomf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorm, Klein Karoo nuus'