OUDTSHOORN NUUS - ACVV Huis Triomf, 'n kinder- en jeugsorgsentrum in Wagenaarstraat, Oudtshoon, sluit sy deure binne die volgende twee maande.
Volgens Alie Killian, Huis Triomf se tesourier, is die sentrum se finansies in die rooi en kan hulle nie met die finansiële situasie voortgaan soos dit tans is nie.
"Huis Triomf is gestig om kinders in maatskaplik moeilike situasies te help. Tans het ons 26 seuns tussen die ouderdomme van agt en 18 jaar wat daar woon. Indien hulle huishoudelike situasies verbeter en maatskaplike dienste daarmee saamstem kan hulle teruggaan huis toe, maar tot dan is ons hulle huis, want waarheen anders moet hulle gaan?
"Ons sukkel al vir jare met die finansies. Die gebou is ook 'n groot probleem. Die gebou is op 'n baie onveilige plek in die dorp en ver van die kinders se skole en kerke. Die gebou is ook meer as 60 jaar oud en dit beteken dat die huis as 'n erfenisgebied verklaar is. Instandhouding aan so 'n gebou is konstant, duur en uitdagend van aard."
Die gebou is meer as 60 jaar oud en instandhouding is duur.
Volgens Killian kan hulle dit eenvoudig nie meer bekostig nie.
"Dit raak moeilik. Die kos en die personeel moet betaal word. Die kinders het skryfbehoeftes, klere, toiletware en soveel meer nodig. Ons kan dit eenvoudig net nie bekostig nie."
Volgens hom het verskeie instansies al voorheen Huis Triomf as liefdadigheids- projek aangepak waar daar pakkies aan die kinders besorg is en die gebou opgeknap is, maar is dit nie 'n langtermyn of volhoubare opsie nie.
"Ons sit werklik in die knyp. Sou daar iewers vir ons manna uit die hemel val, sal ons in elk geval eers 'n ander gebou moet kry. Ons sukkel al jare om 'n beter gebou op 'n meer geskikte plek vir die kinders te kry, maar dit gebeur nie."
Oudtshoorn Courant het in November 2019 berig oor finansiële uitdagings wat dalk tot die sluiting van Huis Triomf kon lei. Kilian het in 2019 gesê die subsidie wat Huis Triomf van die staat ontvang hou glad nie tred met die uitgawes nie.
"Hier het kinders 'n veilige hawe, ons sorg dat hulle by die skool kom, etes ontvang en 24 uur per dag toesig het, maar dit kos alles baie meer as wat ons kan bekostig," het Killian toe gesê.
Volgens Killian is daar tans 14 personeellede waaronder 'n maatskaplike werker, die kinderhuishoof en kinder- en jeugsorgwerkers wat ook hul werk kan verloor.
Die kinders wat hier gehuisves word kom van oor die Suid-Kaap, Groot- en Klein-Karoo wat dorpe soos Heidelberg, Albertinia, George, Plettenbergbaai, Oudtshoorn, Ladismith, Dysselsdorp, Prins Albert, Leeu-Gamka en Beaufort-Wes insluit.
Volgens Eunice Strydom, streek- bestuurder vir ACVV-beskermingsdienste in die Klein-Karoo, kon Huis Triomf vir die volgende twee maande finansies vanaf ACVV Hoofbestuur bekom om die afsluitingsproses, sowel as die proses van oorplasing van kinders na ander kinder- en jeugsorgsentrums of pleegsorg, behoorlik te bestuur.
"Dit is baie hartseer dat die kinder- en jeugsorgsentrum moet sluit. Die huis is aanvanklik as 'n huis vir seuns op straat begin, maar is in 1991 as 'n nie-winsgewende organisasie geregistreer. Hoewel die huis 'n subsidie per kind van departement maatskaplike dienste ontvang, is dit nie genoeg vir al die uitgawes wat so 'n organisasie moet aangaan nie. Ons wens daar was ander opsies, maar met die pandemie op hande is finansies nog minder verkrygbaar en blyk sluiting die enigste uitweg te wees."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'