Update
OUDTSHOORN NUUS - Vriende en familie van Marilize Nortier, wat in 2019 oorlede is, het die week hul misnoeë oor die "ligte vonnis" van Sydney Berry uitgespreek en beplan selfs 'n optog na die hof om 'n petisie daaroor in te dien.
Berry was die bestuurder van die BMW waarin Nortier dood gevind is na 'n ongeluk op die grottepad.
Hy is tot korrektiewe toesig van drie jaar gevonnis, asook twee jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.
Die korrektiewe toesig behels 24 uur per dag in huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, gemeenskapswerk van 18 uur per maand vir die volle drie jaar en die bywoning van programme wat die departement korrektiewe dienste aanbied.
Hy is ook aan versuim om hulp op 'n ongelukstoneel en roekelose en nalatige bestuur aangekla, maar is onskuldig bevind.
So sê familie en vriende
Lindi Joubert, 'n vriendin van Nortier het die week gesê dat sy saam met Leon Campher van Community Against Crime, 'n optog na die hof reël om 'n petisie te oorhandig oor Berry se ligte vonnis.
"Die vonnis is te lig. Ons wil 'n petisie gaan indien om aan die hof te wys dat ons nie daarmee te vrede is nie. Meer detail oor die optog sal nog bekendgemaak word, maar ons wil solank mense begin nooi om die petisie te teken en daaraan deel te neem."
Volgens Morné Nortier het hy ná sy dogter se dood 'n bitter persoon geword en hoop Berry "kry wat hy verdien". "Die beskuldigde het my kind se lewe gesteel."
Selfs Marilize se oupa en ouma kan volgens Nortier nie haar dood verwerk nie.
Fanie van Zyl, Morné Nortier se neef, het die week aan Oudtshoorn Courant gesê hulle is definitief nie met die vonnis tevrede nie.
"Hy (Berry) was nie eerlik nie en baie vrae bly steeds onbeantwoord, soos waarom is sy bloedalkoholvlakke nie getoets nie en waarom kon hy net van die toneel af verwyder word. Kritiese vrae is steeds onbeantwoord."
Jené Snyman (21) het buite die hof gesê Marilize was haar beste vriendin en dat haar dood almal "hard geslaan het". Dit al byna vier jaar en word nie makliker nie.
Die vonnis
Berry kon na die vonnis nie sy trane in die beskuldigdebank keer nie.
Landdros Vaughn Shone het met die aanvang van vonnisoplegging gesê dat dit die moeilikste taak vir 'n landdros is en daar altyd mense sal wees wat ongelukkig daaroor sal wees en meer so in hierdie saak.
Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die hof gevra vir direkte gevangenisstraf omdat dit die enigste gepaste vonnis is.
Sy het twee impak-verslae van Marilize se ouers aan die hof oorhandig.
Nortier se moeder, wat deesdae in Kanada woon, skryf in haar verslag dat sy dit moeilik vind om haar omstandighede te beskryf. Die ongeluk speel nog gereeld soos 'n rolprent in haar geheue af. Sy kan haar nie indink wat haar kind deurgemaak het nie. Haar hele familie is deur die tragedie geraak en haar seun vind dit ook baie moeilik om sy suster se dood te verwerk.
Sy het haar enigste dogter en beste vriendin verloor terwyl Berry kan voortgaan met sy lewe.
"Ek het agtien jaar van my lewe verloor. Die beskuldigde het ons nie om verskoning gevra en toon geen berou nie. Ek hoop hy word opgesluit en nooit weer vrygelaat nie. Hy gaan voort om te drink en te bestuur, maar ek weet dit wat ek vra sal nie gebeur nie."
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, het die hof vir korrektiewe toesig gevra sodat hy buite die tronk kan rehabiliteer. Hy het ook die hof versoek om nie sy rybewys in te trek nie, omdat hy dit as programmatuuringenieur nodig het.
Marilize Nortier
Die ongeluk
Die ongeluk het 22 September 2019 omstreeks 03:00 plaasgevind nadat Nortier en Berry die vorige aand saam gekuier het.
Die motor het vanuit die rigting van die Kango-grotte gekom en skynbaar in 'n draai reguit gery waarna dit die pad verlaat het en deur 'n plaasheining gebars het. Nadat die motor deur die heining is, het dit deur die lug oor die kanaal getrek en die oorkantste wal getref en in die kanaal beland. Sy was steeds in die passasierssitplek vasgegordel. Sy het veelvuldige beserings opgedoen, maar is uiteindelik aan verdrinking dood.
Hy het sy bewussyn verloor en toe hy dit weer herwin het hy die ongelukstoneel verlaat en eers met sy terugkeer verneem van Nortier se dood. Hy het nie geweet sy was in die voertuig nie.
Die man wat Berry langs die pad opgelaai het, Leon Botha, het getuig dat die stank van drank so erg was dat hy die vensters moes afdraai, maar Berry is nie van dronkbestuur aangekla nie.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’