Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Uiters positiewe reaksie van oor die land en selfs uit die buiteland het die afgelope naweek gevolg na Vrydagaand se bekendstelling van 'n uitsonderlike digbundel.
Turksvy Publikasies, 'n uitgewer in Oudtshoorn, het in samewerking met die KKNK en met ondersteuning van Absa, die ATKV, die Jannie Mouton-stigting en Wes-Kaapse regering die afgelope vyf maande aan Maskers en mure, 'n digbundel oor die Covid-19-pandemie, gewerk. Die samestellers is Daniel Hugo en Francois de Jongh.
Die bundel waarin gedigte van 142 bekende en opkomende digters opgeneem is, is Vrydagaand deur die KKNK bekendgestel.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport het die amptelike bekendstelling waargeneem.
Fotogalery: Maskers en Mure bekendgestel
"Die departement van kultuursake en sport is trots om met hierdie unieke projek geassosieer te word en wens almal wat hiervan deel is, geluk met hierdie besonderse versamelstuk. Hierdie digbundel spreek tot elke Afrikaanssprekende en die lesers sal hulle kan identifiseer met die digters se skeppings," het sy gesê.
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, het spesiaal uit Centurion Oudtshoorn toe gekom om die geleentheid by te woon. Hy het gesê die ATKV is opgewonde oor die bundel en oor 'n nuwe uitgewer wat Afrikaans bevorder. Volgens Lemmer is Afrikaans in al sy fasette 'n lewendige taal wat deur skrywers en lesers steeds ontwikkel word.
Die stigters van Turksvy Publikasies, Hannes Visser en Marlene Malan, het aan Lemmer die versekering gegee dat dié nuwe uitgewer uitsluitlik op Afrikaans fokus. Visser het ook gesê dat die uitgewer se fokus wyer strek as bloot die publikasie van manuskripte, maar dat hulle ook aandag gee aan die belangrike taak om skryfvaardighede van aspirantskrywers te ontwikkel.
Die bekende digter, vertaler en stemkunstenaar, Daniel Hugo, het meer vertel oor die samestelling van die bundel en aan Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, gesê dit is 'n bundel wat hierdie tydvak in die geskiedenis uit 142 verskillende perspektiewe vasvang. Die bekendstelling is ingelei deur 'n treffende video wat Johan Jack Smith, een van die digters, in opdrag van Turksvy Publikasies vervaardig het. Terwyl die video beeldmateriaal van oor die hele wêreld vertoon, lees Daniel Hugo 'n treffende gedig van Herman Wasserman voor. Die video kan as deel van die lewendige opname van die aand op die KKNK se webwerf, www.kknk.co.za, gesien word.
Nog 'n bekende stemkunstenaar, Johann Nel, het van die gedigte voorgelees. Die aand is afgesluit met 'n aantal digters wat in die bundel opgeneem is, wat hulle eie gedigte voorgelees het.
Theart het gesê die KKNK se samewerking met Turksvy Publikasies is een van die projekte waarmee dié fees aan hulle nuwe tema, KKNK Oraloor, gestalte gee. Hy het ook aangedui dat daar nog projekte is wat hulle in samewerking met dié uitgewer gaan aanpak.
Ofskoon Maskers en mure nie die heel eerste pandemiebundel in Afrikaans is nie, is dit beslis die mees omvattende en –verteenwoordigende een van digters oor die hele land sowel as uit die buiteland. Hierdie unieke bundel met bykans 270 bladsye word tans eksklusief deur die KKNK bemark en kan by www.kknk.co.za bestel word. As deel van 'n spesiale aanbieding word elke bundel in 'n handgevoude kartonhouer versend.
Die prys is R275 en koerierkoste is gratis indien dit direk van die KKNK bestel word. Die bundel sal eers na 13 Augustus in die handel beskikbaar wees.
Vir enige navrae buiten bestellings, kontak Turksvy Publikasies by turksvypublikasies@gmail.com
Tydens Vrydagaand se bekendstelling van Maskers en mure is, van links: Hugo Theart (artistieke direkteur van Kunste Onbeperk), Hannes Visser en Marlene Malan (direkteure van Turksvy Publikasies), Daniel Hugo en Francois de Jongh (samestellers van die bundel) en Johann Nel, stemkunstenaar. Foto: Hans van der Veen
Hugo Theart en Daniel Hugo in gesprek. Foto: Liezl van Niekerk
Minster Anroux Marais tydens die bekendstelling. Foto: Liezl van Niekerk
Verwante artikels:
- Eerste Afrikaanse Covid-19-digbundel eersdaags beskikbaar
- Unieke pandemiebundel in finale fase
- Oorweldigende reaksie met digbundel
- Nuwe digbundel in vennootskap met KKNK
- Pandemiebundel: Gedigte gesoek
- Groot belangstelling in pandemiebundel
- Gedigte landwyd gesoek vir bundel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'