VERMAAKNUUS - Om die impak van Covid-19 op ons daaglikse lewe te verwoord is nie maklik nie.
Daarom het 'n uitgewer, Turksvy Publikasies, besluit om 'n projek aan te pak om digters die geleentheid te gun om woorde aan die pandemie te gee, iets wat mense kan bemoedig en waarna terugverwys kan word as ons uit hierdie tyd van inperking kom.
Sedert die pandemie die wêreld verlede jaar getref het, het dit mense se lewens ingrypend beïnvloed - miljoene het nie net geliefdes aan die dood afgestaan nie, maar baie het ook hul lewensbestaan verloor, met 'n uitsigloosheid en onsekerheid oor die toekoms wat hulle in die gesig staar.
In dié vreemde grendeltyd het ons almal 'n behoefte daaraan om aan ons emosies uiting te gee. Ons het ook die behoefte om aan ons ervaring van hierdie vreesaanjaende tyd 'n duursame, kreatiewe gestalte te verleen - sodat ons nooit mag vergeet van die stryd waarin die mens en die wêreld die afgelope sowat twaalf maande gewikkel is nie.
Ons leef al vir bykans 'n jaar agter maskers en mure, en het min sosiale kontak, en daar is 'n streep getrek deur ons daaglikse, doodgewone aktiwiteite. Vrees oorheers, en ons doen alles moontlik om onsself te beskerm teen 'n vyand wat in die strate rondsluip op soek na nog 'n prooi. Slagoffers is nie net meer "iemand anders" nie … hulle het name, hulle is deel van jou gesins-, familie- en vriendekring.
Dit titel van die bundel, Maskers en Mure, vergestalt dit waarmee ons nou moet saamleef.
Turksvy Publikasies, in samewerking met die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh, het die projek van stapel gestuur om 'n digbundel te publiseer om hierdie tyd in die wêreldgeskiedenis in Afrikaanse gedigte vas te vang.
Turksvy Publikasies is juis in die tyd van Covid-19 gestig om aan skrywers en digters 'n platform te bied om in Afrikaans uiting te gee aan hulle skryfwerk.
Die inisiatief van Maskers en Mure, het van De Jongh gekom, omdat hy as digter diep bewus is van die emosionele stryd waardeur mense tans gaan. Daniel Hugo, bekende digter, vertaler en radioman, het sy dienste aangebied om die keuring van gedigte te behartig.
Behalwe dat gevestigde digters genooi sal word om aan die projek deel te neem, gaan opkomende digters ook geleentheid gegun word om gedigte voor te lê. Die projek word moontlik gemaak deur borge wat reeds hulle ondersteuning bevestig het.
Inskrywings
Voorwaardes vir voorlegging is heel eenvoudig:
1. Slegs twee gedigte per digter mag voorgelê word
2. Die gedigte moet tydens die inperkingstydperk geskryf wees en die wêreldwye pandemie as tema gebruik
3. Die gedigte mag nog nie voorheen in 'n ander bundel gepubliseer wees nie
4. Die gedigte moet die digter se eie werk wees.
5. Voorleggings word aanvaar tot middernag op 28 Februarie 2021
6. Digters wie se gedigte aanvaar word sal teen 15 Maart in kennis gestel word. Die digter behou kopiereg op gekeurde gedigte.
7. Die keurders se keuse is finaal en geen korrespondensie of navrae oor inskrywings word hanteer nie
8. Die gedigte moet as 'n Word-dokument in Times New Roman 11 by die epos aangeheg word. Gedigte wat in die epos self getik en gestuur word, word nie oorweeg nie.
9 Stuur inskrywings aan danielhugo.skryf@gmail.com en verskaf 'n kontaknommer in die epos.
Suksesvolle digters, wat elkeen 'n gratis digbundel sal ontvang, sal binne twee weke ná die sluitingsdatum van hul opname verwittig word. (Die sluitingsdatum sal waarskynlik in Maart wees).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'