OUDTSHOORN NUUS - Die uitsonderlike digbundel Maskers en mure wat saamgestel is uit gedigte met die Covid-19-pandemie as tema is byna voltooi.
Die werk van bekende en bekroonde digters is in hierdie bundel wat binnekort verskyn, opgeneem.
Dié digters sluit in Johan Myburg, wenner van die 2020-Hertzogprys, Maretha Maartens, verlede jaar se wenner van die Avbob-poësieprys (Afrikaans), Lynthia Julius, wat dieselfde kompetisie in 2019 gewen het, Lina Spies, Clinton V du Plessis, Ronelda Kamfer, Bibi Slippers, Danie Marais en MMWalters, wat in Julie verlede jaar gesterf het. Hy het sy gedig net voor sy dood geskryf en aan die akteur en stemkunstenaar Johan Nel gegee. Nel het Walters se gedig aan die samestellers verskaf. Daarby het die 92-jarige Dolf van Niekerk, wat die Covid-19-siekte oorleef het en ook 'n bydrae gelewer het, die afgelope week verneem dat hy met 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) vereer word vir sy jarelange werk as digter, kortverhaal- en romanskrywer. "Sy oeuvre sluit in 27 boeke oor die filosofie, digkuns, fiksie, drama en memoires waarvoor hy talle pryse verower het," luidens die UV.
Die werk van ongepubliseerde digters, waarvan 'n handvol in die Suid-Kaap woon, is ook in Maskers en mure opgeneem. Hulle is veral van Oudtshoorn en George.
Volgens die uitgewer, Turksvy Publikasies, is die produksieproses goed op dreef en behoort die digbundel teen die einde van Mei te verskyn.
'n Bekendstelling word gereël in samewerking met die KKNK, wat ook by die verspreiding betrokke is. Die publikasie van die bundel word moontlik gemaak met die hulp van die KKNK, Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, die ATKV, Absa en twee borge wat anoniem wil bly. Die samestellers is die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh, wat die gepubliseerde digters genooi het om bydraes te lewer en die inskrywings van die ongepubliseerde digters gekeur het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'