OUDTSHOORN NUUS - 'n Brand wat vroeër hierdie week in Loopstraat in Oudtshoorn by 'n huis ontstaan het, het 'n bejaarde egpaar, wat nog net vier maande in die huis bly, se lewe verwoes.
Al het die egpaar en hul troeteldiere veilig uit die vlamme ontsnap, het die brand elke besitting wat hulle het vernietig.
Lizanda en Herman van der Schyff se huis is Maandagaand, 4 Desember, deur 'n verwoestende brand verswelg.
Gerugte dat 'n kers die oorsaak van die brand was, is deur die Van der Schyffs ontken.
Hulle het tans tydelike blyplek by 'n barmhartige Samaritaan in die woonbuurt gekry.
Volgens die duidelik hartseer Lizanda moes die brand moontlik iewers na 18:00 die aand op 'n manier begin het.
"Dit was voor beurtkrag, so daar was geen rede vir ons om 'n kers aan te steek nie. Ek het gesit en vir Herman gesê: 'Liefie, ek ruik iets brand', en hy sê toe vir my hy ruik dit ook. Ons bly baie teenmekaar in Loopstraat soos wat die huise daar gebou is. Ons was toe nie seker of dit dalk langsaan ons of agter ons was dat iemand dalk vleis gebraai het nie," het sy ontsteld vertel.
Die afgetrede paartjie het verder gesê dat, toe die krag uiteindelik afslaan, die brandreuk nog erger geraak het.
"Herman het toe na die hoofslaapkamer toe gehardloop en toe hy daar kom was dit net vlamme! Toe sê hy vir my, 'die huis brand, uit die huis uit!'," het Lizanda bygevoeg.
Lizanda vertel dat sy self so geruk het van skok dat sy nie eens die brandweer kon bel nie, en dat ander mense in Loopstraat die oproep gemaak het. "Ons het alles verloor, ons het niks, niks nie," het sy in trane gesê.
Volgens die Van der Schyffs het daar reeds gemeenskapslede na vore gekom om hulle te help met donasies, onder andere raadslid Anél Berry. Berry het self 'n beroep op inwoners gedoen om die paartjie te help, met wat ook al moontlik is, veral onder meer klere en toiletware.
"Sy was baie dierbaar. Dankie aan alle Oudtshoorniete wat ons tot dusver bygestaan het, ons waardeer dit uit die diepte van ons harte. Op die oomblik is ons grootste nood klere. Alles wat ons besit het was in daai huis. Ons voel hartseer, baie, baie hartseer," het Lizanda deur haar trane gesê. Daar was ook geen versekering op die huis nie.
Herman het gesê hulle het nou 'n moeilike besluit om te neem oor wat vorentoe gaan gebeur. Hulle het juis so ses jaar gelede vanaf Oudtshoorn na Mosselbaai verhuis om verder hier af te tree.
Indien enige inwoners die Van der Schyffs op enige manier wil bystaan, kan Herman by 072 745 9819 gekontak word.
'n Navraag rakende die brand is aan die polisie gestuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.
Lizanda en Herman van der Schyff het tans tydelike blyplek by 'n barmhartige Samaritaan wat naby hulle bly. Foto: Stefan Goosen
Bure probeer tevergeefs help om die brand te blus. Foto: Wyndham Ewerts
Bure kon net staan en toekyk hoe die vlamme die huis vernietig. Foto: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’