Update
OUDTSHOORN NUUS - Masithembe January (MJ), die vyfde verdagte wat in verband met die moord op Preston Titus in hegtenis geneem is, is Dinsdag borgtog in die Oudtshoorn-landdroshof geweier.
Titus is die nag van 1/2 Desember dood in sy huis aangetref. Hy het 27 steekwonde aan sy lyf gehad en ook verskeie wonde wat met 'n stomp voorwerp toegedien is.
Daar word beweer dat MJ die persoon is wat die beweerde huurmoordenaars, Justice Mooi, wat reeds borgtog geweier is, en Vusumsi, wat nog soek is, aan Magdaleen (Maggie) Titus, Preston se vrou, voorgestel het.
January se prokureur, Daan Dercksen, het Maandag 'n verklaring in die hof voorgelees wat MJ se persoonlike omstandighede verduidelik.
Volgens die verklaring is MJ 22 jaar oud en het 'n kind van drie jaar oud. Hy is woonagtig in Port Elizabeth en is werkloos. Hy het ook geen vorige veroordelings nie. Hy het, volgens die verklaring, ook belowe om sy verhoor by te woon en is reeds 62 dae in die tronk.
Dercksen het die hof gevra om dié omstandighede in ag te neem en ook gesê dat MJ nie 'n gewelddadige persoon is of 'n gevaar vir die gemeenskap inhou nie.
Ao. Daromé Burger, die nuwe ondersoekbeampte, het vir die staat getuig en gesê dat hulle borgtog teenstaan.
Burger het aan die hof 'n samevatting van die ondersoek gegee. Volgens haar was dit duidelik dat daar, die nag van die moord, tekens van 'n stoeiery in Preston se kamer was.
"Dit is verdag dat Maggie nie van die geveg in die kamer reg langs hare wakker geword het nie, maar van die klop aan die venster toe haar dogter by die huis wou inkom," het sy gesê.
Sy het verder getuig dat MJ met die moord verbind word deurdat hy die verdagtes, wat Titus vermoedelik vermoor het, aan Maggie voorgestel het.
Sy het uitgebrei en verduidelik dat MJ die dag na sy arrestasie 'n waarskuwingsverklaring by die polisie afgelê het waarin hy gesê het dat hy en Maggie 'n verhouding gehad het en dat hulle saam Port Elizabeth toe is waar hy haar aan twee mans voorgestel het.
"Volgens die verklaring het Maggie later teenoor MJ erken dat sy haar man wil laat vermoor en het hy drie keer probeer om haar te oorreed om nie met die plan voort te gaan nie. Hy het dus lank voor die tyd van die moord geweet en het niks gesê nie."
Sy het ook erken dat selfoonrekords bevestig dat MJ in Beaufort-Wes was toe die moord gepleeg is.
Hy het wel die Maandag na die moord na Maggie se woning gegaan en het pepersproei, wat tydens die moord gebruik is, geneem met die doel om dit van kant te maak. Dit is egter aan die polisie oorhandig.
Gedurende die borgtogaansoek het die staat dit ook duidelik gestel dat hulle vir MJ se veiligheid vrees omdat Maggie voor haar arrestasie reeds met MJ kontak gemaak het en hom gedreig het om nie met die polisie kontak te maak nie. Hy word ook in 'n ander tronk aangehou omdat die staat bang is dat Sixabiso Klip, wat reeds gevonnis is, en Mooi hom kan dreig.
Burger het ook getuig dat MJ nie 'n vlugrisiko is nie.
"MJ het by 'n plaaslike koerant aangeklop om sy storie aan hulle te vertel en gesê dat hy homself die Vrydag aan die polisie gaan oorhandig. Hy het dit nie gedoen nie. Daar is egter met die polisie kontak gemaak en ons het geweet waar hy was. Daar was 'n reëling tussen hom en die polisie. Hy het nie gevlug nie."
Landdros Johan Steynberg het gesê dat die hof vir MJ wel as 'n vlugrisiko beskou en dat hy moontlik nie die verhoor sal bywoon nie. Steynberg het ook gesê dat January meer weet van die saak as wat hy voorgee.
Die saak is tot 11 Julie uitgestel en al vyf die verdagtes sal dan voorkom.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: MJ borgtog geweier
- Maggie en medebeskuldigdes in hof
- Weermagmoord-verdagte laat vaar borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgaansoek van MJ uitgestel
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Vyfde verdagte vas
- Weermagmoord: Natasha Stuurman kry borg
- Stuurman doen aansoek om borg
- Weermagmoord: Natasha Stuurman-borgtogaansoek vandag
- Weermagmoord: Borgtog geweier
- Weermagmoord: Geen borg vir Magdaleen Titus
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'