Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEOS - Lede van die Openbare Orde Polisie-eenheid (Pops) het Dinsdag hul hande vol gehad met oproerige omstanders wat bier wou buit na 'n ongeluk op die kruising van Rademeyerstraat en Langenhovenweg.
'n Omstander wat die ongeluk sien gebeur het, het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat 'n Nissan-bakkie vanuit Rademeyerstraat in die rigting van die industriële gebied gery het.
"Hy het oor die stopstraat gery en die vragmotor het vanuit George se rigting oor die brug gekom. Hy het regtig die ongeluk probeer vermy, maar kon nie daarin slaag nie en het die bakkie getref."
Die bakkie het met 'n lamppaal op die middelmannetjie in Langenhovenweg gebots en die vragmotor het die heinings van twee huise in Langenhovenweg platgery en ook 'n boom uit die grond geruk. Die vragmotor het sy vrag verloor en bierbottels en -kratte was oor die pad gestrooi.
Paramedici en nooddienste moes die insittende in die bakkie met me-ganiese toerusting uit die wrak sny.
Die aard van sy beserings kon nie bevestig word nie. Die vyf insittendes van die vragmotor was vir skok behandel, maar is ongedeerd.
Kyk 'n video hieronder:
'n Gedeelte van Langenhovenweg was 'n geruime tyd gesluit, maar nuuskierige omstanders op 'n stadium die toneel bestorm om die bier wat in die pad lê te steel. Die Pops-lede het egter vinnig gereageer en die mense met skokgranate en rubberkoeëls verjaag.
Die rustigheid het egter nie lank geduur nie en Pops-lede moes verskeie kere optree om te verhoed dat drank gebuit word.
Later Dinsdagmiddag het lede van die polisie kaste bier uit nabygeleë huise verwyder.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê 'n klag van roekelose en nalatige bestuur en 'n klag van openbare geweld word ondersoek. Niemand is egter in hegtenis geneem nie.
"Die maatskappy aan wie die drank behoort, sal besluit of daar enige verdere klagtes gelê gaan word."
Kyk 'n tweede video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
- Ongeluk-opvolg: Opruiming gaan voort
- Ongelukstoneel word opgeruim
- Opvolg: Vragmotor met bier in botsing
- Langenhoven gesluit na ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'