OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu, wat op borgtog was en in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind is aan die besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie, is nou in aanhouding totdat hy gevonnis word.
Mike Lebombo (46) het onskuldig gepleit op die aanklag omdat hy van mening was dat hy nie verkeerd opgetree het nie.
Volgens hom het 'n sekere Herold Johannes hom gevra om sy semi-outomatiese 9 MM-pistool in sy kluis te bewaar en hom verseker dat hy die wettige eienaar daarvan is.
Lebombo se vriendin het die polisie egter na vier maande ingelig dat hy 'n ongelisensieerde vuurwapen in sy besit het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Lebombo gewaarsku dat hy 'n vonnis van tien jaar tronkstraf opgelê kan word. Hy was bewus daarvan dat dit 'n semi-outomatiese pistool was en wat dit kan doen.
Gelukkig is daar geen bewyse dat dit vir enige misdaad gebruik sou word nie.
Die saak is vir vonnisverrigtinge tot 5 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'