OUDTSHOORN RUGBYNUUS - All Blacks-rugbyklub van Oudtshoorn se voorlopige skorsing uit die SWD Presidentsliga is verlede Woensdag na 'n tugverhoor by die SWD-rugbyunie se kantore in George opgehef. Die skorsing het gespruit uit 'n foto wat in 'n koerant verskyn het waarin 'n lewenslange geskorste speler (Marius Coetzee) saam met All Blacks-spelers en afrigters verskyn het.
Coetzee en vyf ander spelers is in 2014 lewenslank uit rugby geskors nadat hy en vyf ander spelers in 'n wedstryd tussen All Blacks en Bridgton op die Bridgton-sportterrein die skeidsregter van hul wedstryd aangerand het.
Die Oudtshoorn Courant is in besit van 'n brief waarin die SWD-rugbyunie noem dat All Blacks in die verlede telkemale deur skrywes van dié unie verwittig is dat geeneen van dié geskorste spelers aan enige aktiwiteite van die klub mag deelneem nie.
Ingevolge die SWD-rugbyunie se grondwet het die All Blacks klousule 8.6 (onsportiewe gedrag) van hul reëls en regulasies oortree deur toe te laat dat Coetzee in enige hoedanigheid by die klub se strukture betrokke is.
Volgens Damon Gysman, voorsitter van die All Blacks, het die klub by die tugverhoor besluit het om skuldig te pleit omdat Coetzee wel tydens oefeninge van die klub as mentor vir die jonger spelers opgetree het. Gysman het egter benadruk dat Coetzee nie op enige stadium 'n afrigter by die span was nie.
All Blacks, wat 'n amptelike waarskuwing van die SWD-rugbyunie ontvang het vir die verbreking van die unie se reëls en regulasies, het ook intussen briewe aan al vyf lewenslank geskorste spelers gestuur waarin hulle gemaan is om hul skorsingsanksies te eerbiedig.
Marius Coetzee in wit geklee (regs).
Die sanksies stipuleer onder meer dat dié geskorste spelers nie tydens oefeninge teenwoordig by die veld mag wees of advies aan spelers tydens wedstryde te gee nie.
Hulle mag voorts ook nie namens die klub optree nie of aan enige van die klub se rugby aktiwiteite deelneem nie.
Intussen het All Blacks Saterdag sy terugkeer na die SWD Presidentsliga met 'n oorwinning oor Willowmore United op Willowmore gevier nadat hulle dié span met 35-24 geklop het.
In nog 'n SWD Presidentligawedstryd het Spring Roses vir Uniondale op die Oudtshoorn-sportgronde met 21-14 geklop. Bridgton-rugbyklub het Saterdag in 'n SWD Premierligawedstryd op die Bridgton-sportterrein teen Heidelberg met 29-27 verloor.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'