Update
OUDTSHOORN NUUS - All Blacks-rugbyklub van Oudtshoorn is verlede Vrydag voorlopig deur SWD-rugbyunie uit die Presidentsliga geskors hangende 'n tugverhoor nadat dié span glo 'n voormalige geskorste speler (Marius Coetzee) as een van sy afrigters by All Blacks aangestel het.
Die skorsing spruit uit 'n foto wat verlede week in 'n koerant verskyn het waar Coetzee met All Blacks-spelers en afrigters poseer.
Coetzee (skrumskakel) is in 2014 lewenslank uit rugby geskors nadat hy en vyf ander spelers in 'n wedstryd tussen All Blacks en Bridgton op die Bridgton-sportterrein die skeidsregter van hul wedstryd aangerand het.
Volgens Hennie Baartman, president van SWD-rugbyunie, is All Blacks in die verlede telkemale deur skrywes van die unie verwittig dat geeneen van dié geskorste spelers aan enige aktiwiteite van die klub mag deelneem nie.
Die klub se wedstryde word ook opgeskort totdat 'n onafhanklike tugkomitee 'n besluit kan neem.
Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, het by navrae gereageer dat Coetzee glad nie by die span se bestuur of enige ander posisie betrokke is nie. "Ek kan wel bevestig dat hy steeds 'n stoere ondersteuner van die klub is ondanks die voorval wat in 2014 gebeur het. Die bestuur van All Blacks kan geen voormalige speler weier om die klub te ondersteun nie."
Volgens Gysman is hy stomgeslaan deur die skorsing omdat daar nêrens in die koerant waar die foto verskyn het gestipuleer is dat Coetzee een van die afrigters van die span is nie.
"Die drag wat hy aangehad het (wit All Black hemp) is ook vrylik beskikbaar en ons ondersteuners poseer ook gereeld saam met die span."
Gysman het gesê dat All Blacks 'n span met 'n ryk geskiedenis is wat vanjaar 70 jaar oud word en dat hierdie onsmaaklike petalje die span se planne kortwiek om voort te gaan met sy verjaarsdagvieringe wat die naweek (Paasnaweek) sou afgeskop.
All Blacks het verlede Saterdag hul eerste wedstryd van die seisoen teen 'n sterk Collegians span met 15-13 gewen.
Marius Coetzee in wit geklee (regs). Foto: Ebenezer Titus
Lees 'n vorige artikel: All Blacks-Rugbyklub geskors oor Coetzee
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'