Gallery
DE RUST NUUS - Meiringspoort is wel steeds weens vloedskade gesluit, maar dit kon nie die geesdrif van duisende drawwers en die deursettingsvermoë van die 31ste Optimum Meiringspoort-marathon se organiseerders blus nie.
Die marathon het Saterdag 10 Oktober met uitstekende deelname en heerlike weer bewys dat selfs 'n veranderde roete nie dié gewilde wedloop kan stuit nie.
Met die bekende roete deur die poort steeds onbruikbaar, moes die organiseerders op kort kennisgewing nóg 'n verandering aanbring. Die wedloop sou aanvanklik op die Middelplaas-grondpad plaasvind, maar weens verdere reën is die roete na die Uniondale-pad verskuif.
Dit het egter nie die drawwers afgeskrik nie.
Die deelnemers is vroegoggend per vragmotor na die onderskeie wegspringpunte vervoer. Om 07:00 het hulle weggespring om die uitdagende afstande van 21,1 km en 12,5 km aan te pak, met die NG Kerk in De Rust as eindpunt.
Die nuwe roete het beslis sy uitdagings gebied. Volgens die deelnemers was daar heelwat opdraandes, maar die Karoo se natuurskoon en die vriendelikheid van die helpers by die waterpunte het die swaarkry draagliker gemaak.
Intussen het die gees in De Rust hoog geloop. Stalletjies het gesorg dat besoekers en deelnemers hul honger kon stil en dors kon les, terwyl Suezette Smit, wat weer as seremoniemeester opgetree het, die prysuitdeling met haar kenmerkende entoesiasme aan die gang gehou het.
Volgens Martie van der Westhuizen, een van die organiseerders, was die terugvoer van die deelnemers oorweldigend positief.
"Een van die deelnemers het dit op Facebook so mooi opgesom: 'Dit was anders, maar dis eenders.'"
En dalk beskryf dié woorde die dag die beste: die roete was anders, maar die gees, kameraadskap en besondere atmosfeer waarvoor die marathon bekend is, het onveranderd gebly.
'n Uitdaging wat die moeite werd was
Vir Emsie Martin, wat vanjaar haar derde Meiringspoort-marathon voltooi het, was dit definitief 'n ander ervaring.
"Die nuwe roete was mooi, maar beslis baie moeiliker. Geen plat roete nie, net nimmereindigende opdraandes en een lekker afdraande. Die deelnemers het egter die beste daarvan gemaak. Dit was beslis 'n monster; ek herstel nog," het sy gesê.
Vir Manyanca Martin en haar man, Michael, was dit hul eerste deelname aan die wedloop. Die egpaar van Heidelberg in Gauteng het reeds drie jaar lank probeer om in te skryf.
"Die roete was moeilik, dalk moeiliker as die Twee Oseane se 21 km, maar dit was lekker. Die ervaring was ongelooflik, selfs die vragmotorrit! Die organisering was regtig goed, en ons kan nie wag om die regte Meiringspoort-roete te doen nie," het sy gesê.
Albertus Kennedy, wat vanjaar vir die vierde keer deelgeneem het, het ook die uitdagings van die nuwe roete uitgelig.
"Die nuwe roete was beslis meer uitdagend weens 'n paar steil bulte wat nie deel van die roete deur die poort is nie. Dit bly egter 'n besonderse ervaring, en die organisering was weereens puik, beslis 'n pluimpie vir die organiseerders."
Van 15 tot 83 jaar
Die marathon het ook gewys dat die liefde vir hardloop nie deur ouderdom beperk word nie. Die twee oudste deelnemers vanjaar was albei 83 jaar oud. Dicks Theron was die oudste deelnemer in die 21,1 km-wedloop, terwyl John Hillair-Zeil dié onderskeiding in die 12,5 km-wedloop ontvang het.
Aan die ander kant van die ouderdom-spektrum was die 15-jarige Zia du Toit die jongste deelnemer aan die 12,5 km-wedloop, terwyl Barend Wessels (16) die jongste deelnemer in die 21,1 km-wedloop was.
Asof die dag nie reeds genoeg rede vir feesviering gebied het nie, het agt deelnemers boonop hul verjaarsdae op die marathondag gevier.
Hier volg die uitslae:
12,5 km, mans
1. Austin Koopman - 38:33.8 (seniors 20-39), Nedbank Running Club SWD
2. Werner Julies - 39:28.8 (seniors 20-39)
3. Francois Maquassa - 39:41.2 (seniors 20-39), Nedbank Running Club SWD
4. Wayne April - 40:14.1 (seniors 20-39), Nedbank Running Club SWD
5. Emile Kotze-Benade - 44:52.2 (juniors 15-19)
12,5 km, vroue
1. Ane Bester - 51:26.8 (juniors 15-19), Iron Jawed Multisport
2. Karin Steinman - 52:47.2 (seniors 20-39)
3. Leane Labuschagne - 54:22.5 (vroue, 40-49)
4. Melanie Marais - 55:12.5 (vroue, 40-49)
5. Louise Aucamp - 55:59.7 (seniors, 20-39)
21,1 km, mans
1. Lloyd Bosman - 01:10:15.7 (seniors, 20-39), Nedbank Running Club SWD
2. Selwyn Matthews - 01:11:00 (seniors, 20-39), Nedbank Running Club SWD
3. Wiliam van Tonder - 01:14:30.2 (seniors, 20-39), Iron Jawed Multisport
4. Akeen Wilson - 01:16:50.1 (seniors, 20-39)
5. Anele Khalipa - 01:18:08.8 (seniors, 20-39)
21,1 km, vroue
1. Jandri Snyders - 01:22:07.5, (seniors, 20-29), Hartenbos-drawwers
2. Minette van Zyl - 01:25:33.2 (seniors, 20-39), Paarl AC
3. Lea Jacobs - 01:27:37.5 (seniors, 20-39)
4. Cindy Viljoen - 01:28:14.4 (seniors, 20-39)
5. Melissa van Rensburg - 01:29:14.2 (40-49), Nedbank Running Club SWD.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’