OUDTSHOORB NUUS - Stap in die lewende stories van Oudtshoorn in deur die Karoo Kaarte-toepassing.
Die toepassing is 'n interaktiewe, mobiele argief wat die dorp omskep in 'n plek van geheue, stem en verwondering, gewortel in plek.
Ontwikkel as deel van Karoo Kaarte se gemeenskapsgeleide navorsing, bied die toepassing selfbegeleide staproetes wat mondelinge geskiedenisse, persoonlike verhale en erfenisterreine verweef, alles direk uit Karoo Kaarte se argief.
Terwyl jy deur Oudtshoorn se woonbuurte stap, hoor jy die herinneringe van plaaslike inwoners, herleef jy brokkies uit kinderjare, en ontdek jy stories oor openbare én verlore ruimtes, alles opgeteken op 'n kaart wat verlede en hede verbind.
Op hierdie manier doen die Karoo Kaarte-toespassing meer as om te lei, dit is 'n skeppende ervaring. Dit nooi gehore en gemeenskapslede uit om die argief in hul sakke saam te dra, om geheue hardop te verken, en om roetes te stap wat gevorm is deur werklike drome en herinneringe.
Wat is Karoo Kaarte?
Die Karoo Kaarte-program vir 2026 aktiveer plaaslike fotografiese versamelings wat met Oudtshoorn se veelvlakkige verlede in gesprek tree: Van intieme familie-argiewe en 'n plaaslike fotografiese ateljee tot die kragtige beelderfenis van Saamstaan, die anti-apartheid gemeenskapskoerant wat die gemeenskappe waarteen gediskrimineer was se lewens gedokumenteer het.
Foto's, mondelinge geskiedenisse en bydraes wat oor vyf jaar as deel van Karoo Kaarte versamel is, sluit naatloos hierby aan.
Hierdie foto's staan sentraal tot Karoo Kaarte se program en aanbod by vanjaar se KKNK, wat onder andere 'n splinternuwe drama, Spoel, visuele kunsuitstalling en verskeie publikasies insluit.
"In 2026 vier ons nie net die 30ste KKNK in Oudtshoorn nie, maar ook vyf jaar van Karoo Kaarte, 'n projek wat stadig maar seker die manier verander het waarop plattelandse geskiedenisse gedokumenteer, gedeel en herverbeel word," sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK.
Vir hierdie mylpaal keer die span terug na plaaslike fotografie om die uitruil van herinneringe, beelde, kennis en sorg tussen gemeenskappe, dikwels lank geskei deur ras, geografie en toegang, sigbaar te maak.
Dié veelbekroonde gemeenskapsprojek se kern draai rondom Oudtshoorn-stories wat nie voorheen vertel of gedokumenteer was nie, stories oor persoonlike ruimtes, herinneringe uit kinderdae en tradisionele kennis van dié Klein-Karoodorp en sy mense. 'n Lewende argief word deur alle deelnemers aan die opwindende projek saamgestel en 'n platform word geskep wat plaaslike talent na die voorgrond bring, om die nasionale kollig te verbreed en kunstenaars uit eie bodem in te sluit.
Teater en visuele kuns word as kreatiewe prosesse ingespan, ondersteun deur Karoo Kaarte se navorsing en argief, om 'n spesiale program vir die KKNK saam te stel. Hierdie inhoud het oor die afgelope vier feeste, harte gesteel met herinneringe, drome en kinderspeletjies eie aan Oudtshoorn-inwoners.
Karoo Kaarte eer die fotograwe, argiefbewaarders en storievertellers wat herinneringe lewend hou deur uitstallings, vertonings en gesprekke, en nooi gehore om saam nuwe maniere van sien en behoort in die Klein-Karoo te verbeel. In Oudtshoorn verwys 'om kaarte te sny' na gesels en die vertel van ernstige en lighartige stories. Die naam Karoo Kaarte sinspeel op dié dubbele betekenis van kaarte in die Oudtshoorn-streektaal.
Karoo Kaarte is 'n KKNK-projek, ondersteun deur die Jannie Mouton-stigting, Het Jan Marais Nationale Fonds en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’