OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorniete het Dinsdagaand, 18 Augustus, behoorlik gejuig toe die krag ná vier dae uiteindelik weer aangeskakel is.
Die kragtoevoer na Oudtshoorn is Saterdagoggend omstreeks 03:00 onderbreek nadat drie Eskom-strukture op die 132kV-lyn tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp omgeval het. Oudtshoorn Courant het Maandag die toneel besoek.
Volgens inligting wat aan die koerant verskaf is, het ’n hoek-vyfpaalstruktuur eerste gebreek, waarna dit twee ander strukture saamgetrek het. Die voorval het ook veroorsaak dat ander strukture skeefgetrek is.
Die herstelwerk het talle uitdagings aan die Eskom-span gebied. Aanvanklik is besluit dat dit te lank sou neem om nuwe vyfpaalstrukture te bou, waarna daar eerder op 18 meter pale besluit is.
Die proses het egter aansienlik langer geduur as wat verwag is, aangesien die span gesukkel het om deur rotsbanke te boor. Dinsdag het een van die nuwe pale gebreek, waarna die herstelspan van vooraf moes begin.
Met behulp van masjinerie van Volmoed Quarries en Van der Berg Vervoer kon Eskom uiteindelik daarin slaag om die kragtoevoer Dinsdagaand te herstel.
Dit bly steeds onduidelik wat die oorsaak van die struktuur se ineenstorting was.
Van der Berg Vervoer se masjinerie op die toneel waar die kragpale herstel is. Foto: Volmoed Quarries & Van der Berg Vervoer
Weer ’n terugslag vir ’n streek onder druk
Vir Oudtshoorn en sy omliggende gemeenskappe was die kragonderbreking meer as net 'n ongemak.
Inwoners en ondernemings was eenvoudig nie daarop voorberei om vir vier dae sonder elektrisiteit te wees nie.
Dit is ook nie die eerste groot terugslag wat die streek vanjaar moes verduur nie.
Ná kommer oor ’n moontlike droogte aan die begin van die jaar, is die Klein-Karoo in Mei en Junie deur twee ernstige vloede getref. Meiringspoort het omvangryke skade gely en is steeds gesluit, terwyl die grottepad sedert 9 Mei vir verkeer gesluit was.
Die padsluiting het 'n groot knou vir toerisme in die gebied beteken. Inwoners in die omgewing moes gedurende dié tydperk ook ongeveer drie weke sonder elektrisiteit klaarkom.
Die pad is uiteindelik op 10 Julie amptelik vir verkeer heropen.
Nou het die langdurige kragonderbreking toerisme- en ander ondernemings in die streek nog ’n harde slag toegedien.
Volgens Corleen Barnard, bestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, het toerismebesighede weereens onder die kragonderbreking deurgeloop.
“Ons het lede wat kansellasies gehad het omdat daar geen krag was nie. Benewens die verlies aan inkomste, moes ondernemings ook kragopwekkers gebruik om hul besighede aan die gang te hou,” het sy gesê.
Besighede tel die koste
Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, het Dinsdag aan RSG gesê veral fabrieke en ouetehuise is deur die kragonderbreking geraak.
“Vandalisme en misdaad het beslis toegeneem en die feit dat daar bitter min kommunikasie was oor wat presies aangaan, het inwoners ook moedeloos gehad,” het Ferreira gesê.
Verskeie restaurante het ook aangedui dat hulle voedselverliese gely het omdat vars voorraad vooraf aangekoop is en yskaste en vrieskaste vir dae nie gewerk het nie.
Daarmee saam moes ondernemings ekstra geld aan brandstof en kragopwekkers bestee om hul deure oop te hou.
Die sloot wat gegrawe is om die kragkabels te steel. Foto: Liezl van Niekerk
Kabeldiewe slaan toe
Terwyl Oudtshoorn gesukkel het om deur die kragkrisis te kom, het kabeldiewe glo die geleentheid benut om munisipale infrastruktuur by die Bridgton-sportterrein te teiken.
Oudtshoorn Courant het Dinsdag 18 Augus-tus na aanleiding van verskeie boodskappe uit die gemeenskap die sportterrein besoek.
Lang oop slote is daar aangetref waar kabels gesteel is. Volgens inligting wat verskaf is, is meer as 40 meter kragkabel reeds uitgegrawe en gesteel.
In 'n poging om verdere verliese te voorkom, het werkers na bewering kabels wat reeds oopgegrawe was, maar nog nie deur diewe verwyder is nie, self uitgehaal en in veilige bewaring geplaas.
’n Lid van die gemeenskap, wat anoniem wil bly, beweer inwoners weet wie vir die kabeldiefstal verantwoordelik is en dat die name volgens die persoon reeds aan die polisie verskaf is.
“Hulle kom selfs in die dag as die personeel weg is, om kabels te steel.”
Die gesteelde kabels voorsien krag aan die spreiligte by die sportterrein.
Munisipaliteit reageer
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het nie gereageer op navrae oor die diefstal van kragkabels wat tydens die langdurige kragonderbreking in die gebied plaasgevind het nie.
Volgens ’n verklaring van die munisipaliteit kan die volle omvang van die skade en koste wat deur die kragkrisis veroorsaak is, ook nog nie bepaal word nie.
Die munisipaliteit het wel gesê dat die langdurige elektrisiteitsonderbreking nie die werking van die dorp se rioolpompstasies beïnvloed het nie.
Die Oudtshoorn-afvalwaterbehandelingswerke is volgens die munisipaliteit met ’n bystandkragopwekker toegerus en bly operasioneel. Die afvalwaterbehandelingswerke in Dysselsdorp beskik tans nie oor ’n bystandkragopwekker nie, maar is gelukkig nie deur die Eskom-onderbreking geraak nie.
Verskeie pompstasies wat deel vorm van die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema, veral in landelike gebiede wes van Oudtshoorn, is wel deur die kragonderbreking geraak. Die aantal verbruikers wat hierdeur geraak is, was volgens die munisipaliteit egter relatief beperk.
Oudtshoorn se hoofwatervoorsiening vanaf die Raubenheimerdam word deur swaartekrag gevoed en is dus nie afhanklik van Eskom-elektrisiteit om water na die dorp te vervoer nie. Elektrisiteit is wel nodig vir sekere beheerkleppe en die chlorineringstelsel by die dam, maar die munisipaliteit beskik oor kleiner bystandkragopwekkers om hierdie kritieke komponente aan die gang te hou.
Volgens die munisipaliteit kon die watervoorsiening dus ondanks die langdurige elektrisiteitsonderbreking gehandhaaf word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’