Update
DE RUST NUUS - Terwyl sommige mense op Jeugdag, Dinsdag 16 Junie, gerus het, het dosyne De Rusters moue opgerol en ’n paar duisend malvasteggies in sakkies en potjies geplant.
Dit is gedoen as deel van die dorp se Mal’va De Rust-projek waarmee inwoners die dorp in Suid-Afrika se ‘malvamekka’ wil omskep.
Die steggies is by die kwekery van Eddie van Eck op Van Eck’s Rust by Oude Muragie geplant. Van Eck kweek bedreigde spesies vetplante by die kwekery en sê hy het die fasiliteit aangebied vir die kweek van ’n beplande 20 000 malvaplantjies.
“Ek het genoeg spasie hier, want mens kan nie 20 000 plantjies sommer in ’n agterplaas onder ’n afdak aan die groei kry nie,” het hy aan Oudtshoorn Courant gesê. Hy het die steggies voorberei vir Dinsdag se plantery.
Volgens Marita Coetzee, komiteelid van die Mal’va De Rust-projek, moet hulle nou wag dat die plantjies blom voordat hulle uitgeplant kan word.
Eddie van Eck besig om steggies voor te berei vir Dinsdag se oorplantery. Foto: Verskaf
“Leon Kluge, die internasionaal-bekende landskapkontwerper en botanis, het ingewillig om vir ons die uitleg van die malvabeddings in die dorp te doen. Sodra die plantjies blom, sal ons ’n plantdag reël sodat die plante volgens Leon se beplanning en kleurskemas geplant kan word.”
Intussen is De Rusters in die dorp reeds hard aan die werk om malvas in hul tuine en op sypaadjies te vestig en moet die res van die bykans 20 000 steggies nog geplant word.
Met die bekendstelling van die projek is kunstenaars uitgenooi om ontwerpe vir ’n embleem vir Mal’va De Rust voor te lê. Die komitee het 30 inskrywings ontvang. Die wenembleem wat Dinsdag aangekondig is, is deur Daniel Scott van Oudtshoorn ontwerp en sal voortaan op alle bemarkingsmateriaal en korrespondensie van die projek gebruik word.
Mense wat belangstel om betrokke te raak of meer inligting verlang kan die Facebook-blad, Mal’va De Rust volg.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’