DE RUST NUUS - Met die inligtingsessie om die Mal'va De Rust-projek aan inwoners bekend te stel het meer as 70 De Rusters verlede Woensdagaand, 3 Junie, die reënweer trotseer en in die kerksaal bymekaargekom.
Uit die terugvoering van Freda Schoeman, die inisieerder van die projek, was dit duidelik dat talle inwoners reeds aan die werk gespring het om malvasteggies te kweek en te plant.
Die inisiatief is begin nadat Meiringspoort as gevolg van vloedskade onbepaald gesluit is en verkeer deur die dorp bykans opgedroog het. Van die besigheidseienaars het Woensdagaand gesê hul besighede het die afgelope drie weke met tot soveel as 80% verminder.
Die Mal'va De Rust-projek is tweeledig. Behalwe dat dit dringend begin is om publisiteit aan die dorp te gee en motoriste aan te moedig om vanaf Willowmore deur De Rust kus toe te ry, is daar ook 'n langtermynplan om De Rust as die land se 'malvamekka' te ontwikkel.
Die projek word op Jeugdag, Dinsdag 16 Junie, met 'n plantdag amptelik van stapel gestuur. Ter voorbereiding van dié dag is inwoners reeds besig om steggies te kweek en sekere areas in die dorp is reeds geïdentifiseer vir malvabeddings. Die dag se program sal binnekort bekendgestel word.
Leon Kluge help moontlik ook
Die opwindende nuus is ook Woensdag-aand met mense gedeel dat die internasio-naal-bekende landskapontwerper en botanis, Leon Kluge, aangebied het om die uitleg van malvatuine in De Rust te doen.
Teen Dinsdag het die komitee gesê die besonderhede van sy deelname moet nog gefinaliseer word. Kluge het vanjaar die span gelei wat die goue medalje vir die beste uitstalling by die wêreldbekende RHS Chelsea-blommeskou vir Suid-Afrika verower het.
Kunstenaars is reeds genooi om 'n embleem vir die projek te ontwerp wat op alle bemarkingsmateriaal, naamborde en inligtingstukke gebruik sal word.
Die wenmotief sal Dinsdag tydens die plantdag bekendgemaak word.
Die dorp het ook 'n BackaBuddy-projek begin met die oogmerk om R100 000 in te samel om die Mal'va-projek te finansier.
Tydens Woensdagaand se vergadering het talle inwoners positiewe voorstelle gemaak wat 'n moontlike malvafees en selfs 'n Guinness-wêreldrekordpoging insluit.
"Dit is reeds algemene kennis dat die meeste malvas wat wêreldwyd gekweek word, oorspronklik uit Meiringspoort en die Swartberge kom. Daarom is dit so belangrik dat De Rust as die land se 'malvamekka' moet bekend raak," het Schoeman gesê.
Vir meer inligting oor die projek volg gerus die Facebook-blad: Mal'va De Rust.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’