DE RUST NUUS - Alhoewel die skade aan Meiringspoort maande gaan neem om te herstel, meen 'n inwoner dat die skade nie so erg is soos met die vloed van 1996 nie.
Oudtshoorn se bekende fotograaf, sielkundige en fietsryer, Hans van der Veen, en nog twee fietsryers, Yolande en Hentie de Villiers, het Sondag 31 Mei opgesaal en met hul fietse deur die poort gery, geklouter en gestap.
Die drie het by Klein Karoo Agri in De Rust weggespring en gevorder tot waar die pad aan Klaarstroom se kant van die poort heeltemal weggespoel het. Die rit heen en weer was 43 km.
"Dit was goed om self die skade te sien, want die foto's wat op sosiale media gedeel is, kon nie vir my 'n duidelike indruk gee van die omvang van die skade en hoe dit met 1996, toe die pad eers in 2000 weer oopgestel is, vergelyk nie," het Van der Veen Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê.
Die fietsryers moes op talle plekke hul fietse dra aangesien dele van die pad weggespoel is. Foto: Hans van der Veen
Volgens hom is sowat 5 km van die pad tydelik herstel om aan mense wat na Meijers Rust en die aangrensende gasteplaas moet gaan toegang te verleen. Daarna is daar egter dele waar die pad heeltemal weg is, en selfs vir fietse ontoeganklik is, sê Van der Veen.
"Daar is baie plekke waar ons moes afklim en die fietse moes dra of stoot. Die noordekant het die meeste skade. By die noordelike ingang na Meiringspoort sowel as Gerolmsdrif is die hele pad weg."
Van der Veen glo egter dat die grootste gedeelte van die skade klippe, sand en plantreste is wat op die padoppervlak lê en wat opgeruim kan word. Hy is optimisties dat die herstelwerk nie so lank sal duur soos na die 1996 vloed toe die pad vir maande en maande permanent gesluit was nie.
Die inligtingsrondawel by die Meiringspoort waterval. Foto: Hans van der Veen
Hy sê egter dat mense nie bloot met hande gevou moet sit en wag nie, maar betrokke kan raak om die werk te bespoedig.
"Die ramp bied geleentheid vir die privaat en publieke sektore om hande te vat en elkeen iets te doen om die gevolge van die skade ongedaan te maak. Boere kan byvoorbeeld met trekker, wa en arbeid die groot gedeeltes wat met grawe opgeruim kan word, doen terwyl die provinsiale administrasie die pad herbou. Dit is ook van toepassing op ander paaie soos byvoorbeeld by Lategansvlei wat al sedert 7 Mei gesluit is. Ek dink ons Oudtshoorniete sal self meer betrokke moet raak hierby, want dié tipe rampe gaan meer gereeld voorkom en vereis groter gemeenskapsbetrokkenheid."
Dit blyk dat talle stappers, terwyl daar geen verkeer deur die poort kan ry nie, ook van die geleentheid gebruik maak om die prag van Meiringspoort te voet te verken. Van der Veen sê hulle het heelwat stappers in die poort teëgekom.
Lees ook:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’