OUDTSHOORN NUUS - 'n 24-jarige man van Oudtshoorn, wat op drie aanklagte van strafbare manslag skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof 'n opgeskorte vonnis opgelê.
Xavier Arendse het skuldig gepleit op die dood van sy drie vriende, Chandre Nortjé, Jacques Prinsloo en Bertram Michaels, op 13 Julie 2019.
Hulle was die betrokke aand vanaf Dysselsdorp onderweg na Oudtshoorn toe die motor wat deur Arendse bestuur is, die pad verlaat en gerol het.
Clarika Stuurman, 'n maatskaplike werker, het aanbeveel dat die beskuldigde tronkstraf opgelê moet word omdat drie jongmense hul lewens verloor het.
Ook die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Arendse onder die invloed van alkohol bestuur het.
Arendse se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die hof egter vir 'n opgeskorte vonnis gevra. Hy het skuldig gepleit en is 'n eerste oortreder.
Die moeders van Jacques Prinsloo en Bertram Michaels, Susanna Moos en Sherelene Michaels, het die hof versoek om nie die beskuldigde tronk toe te stuur nie omdat hulle hom reeds vergewe het.
"Dit kon net sowel my seun gewees het wat vandag in die beskuldigdebank staan," het Moos gesê. "Hulle was goeie vriende en wat daardie aand gebeur het, het gebeur."
Charlene Nortjé, moeder van Chandre Nortjé, was baie emosioneel en het die hof gevra om net geregtigheid te laat geskied.
Volgens haar het haar seun so baie vir haar beteken. Sy kon egter nie aan die hof sê wat sy dink regverdig sal wees nie en die hof het gelas dat sy berading kry.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê die beskuldigde en sy drie vriende het die betrokke dag saam alkohol gebruik en nie een van hulle het vir hom gesê om nie te bestuur nie.
Sy het Arendse gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Vorige artikels
- Vonnisoplegging sloer steeds
- Motorbestuurder skuldig aan strafbare mansslag
- Derde slagoffer Saterdag begrawe
- Roudiens vir seun wat na ongeluk sterf
- Derde ongelukslagoffer sterf
- Twee sterf, een kritiek
- Oorledenes se identiteit bekend
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’