OUDTSHOORN NUUS - Inwoners in Oudtshoorn is geskok dat daar reeds vier moorde aangemeld is vanaf 20 Desember tot vandag.
Adjudant-offisier Chris Spies, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap het die vier moorde bevestig.
Andrew Maartens (36) van Rietvlei is op 20 Desember vermoor. Sergio Boeta Prins (21) het op 22 Desember omgekom aan meswonde en is ‘n 14-jarige seun in hegtenis geneem vir die moord. Lihle Stuurman (22) se ligaam is op 24 Desember by die begraafplaas met veelvuldige meswonde ontdek en Francine Meyer (47) van Grootkraal buite Oudtshoorn is op Kersdag vermoor.
Patrollies opgeskerp
Spies het verder bevestig dat Oudtshoorn-polisie hul patrollies gaan opskerp weens die skielike toename in kontakmisdaad. “Addissionele bronne is ontplooi gedurende die afgelope naweek wat insluit onderskeie polisie-eenhede, nuut opgeleide konstabels en lede wat hul verlof opgegee het.
Alkohol en dwelmmisbruik bly van die grootste faktore in ernstige en geweldadige misdade, asook geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord wat gedurende die feestyd toeneem.”
Hy het beklemtoon dat die addissionele bronne sal fokus op hoë sigbaarheid in gebiede waar misdaad voorkom om geweldadige misdaad hok te slaan, asook om toe te slaan op onwettige drankverkope en dwelmhandel.
Kransleggings
Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het sy skok uitgespreek oor die vier nuutste moorde in Oudtshoorn. Volgens hom bring dit die statistiek vir 2025 op 16 moorde.
OCAC beoog om op Maandag 29 Desember twee kransleggings ter ondersteuning van die families.
Andrew Maartens se kranslegging vind om 11:00 in Rietvlei plaas en Sergio Prins se kranslegging sal om 15:00 in Rosebank plaas.
Vorige berigte:
- Moorddossier geopen na vrou se moord
- Man se liggaam in begraafplaas gevind
- 14-Jarige in hof vir mesdood
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’