OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-polisie het ‘n 41-jarige man in hegtenis geneem in verband met die moord op Francine Meyer (47).
Volgens adjudant-offisier Chris Spies, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, is die Oudtshoorn-polisie Donderdag 25 Desember omstreeks 15:00 na die Oudtshoorn-hospitaal ontbied.
“Met hul aankoms het hospitaalpersoneel die lede verwys na Meyer, wat met oop wonde aan haar kop en nek in die hospitaal opgeneem is. Sy is kort daarna deur mediese personeel aan diens dood verklaar,” het Spies gesê.
Verdere ondersoek het die polisie na Matjiesrivier gelei, waar die toneel vir moontlike leidrade deursoek is. Die verdagte is in hegtenis geneem en is tans in polisie aanhouding.
Daar word verwag dat hy Maandag 29 Desember in die Oudtshoorn-landdroshof sal verskyn op ‘n aanklag van moord.
Die ondersoek duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’