OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ’n vermeende dwelmsindikaat wat Maandag 27 Oktober in die Oudtshoorn-streekhof sou begin moes uitgestel word omdat die regsverteenwoordiger van een van die beskuldigdes hom aan die saak onttrek het, en een van die beskuldigdes intussen oorlede is.
Die 16 verdagtes, 13 mans en drie vroue, staan tereg op altesaam 54 aanklagte van handel in dwelms en geldwassery. Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof meegedeel dat een van die verdagtes oorlede is en die saak teen hom teruggetrek is.
Vier van die beskuldigdes, Manfred John, die hoofverdagte wat reeds jare met dwelms in Oudtshoorn handel, Wilbur Paulsen, Arlington Hurling en Shaun Hendricks, word aangehou terwyl agt op borgtog is.
Borgtog van R20 000 elk is aan Reginald Fielies en Melvin Jacobs toegestaan, R5 000 aan Marshall McClune, en R1 000 elk aan Vladimar Gordon, August Wild, Emile Jonas, Vivian Arries en Vincent Goba.
Ann Erasmus, Chantelle Manewil en Madalyna Adams is op waarskuwing vrygelaat.
’n Sestiende verdagte dien tans ’n vonnis van 22 jaar uit vir handel in dwelms,
Streeklanddros Masebuku van Beaufort-Wes het die saak vir vyf dae se verhoor, van 22 tot 26 Junie 2026, uitgestel.
Vorige berigte:
- Saak teen dwelmsindikaat uitgestel
- Hawks take down huge Southern Cape drug syndicate
- 16 in court for involvement in drug-trafficking syndicate
- Saak teen vermeende dwelmsindikaat uitgestel
- 16 Borgtoguitsprake van dwelmsindikaat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’