Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 16 verdagtes, vermoedelik 'n dwelmsindikaat, wat teregstaan op altesaam 54 aanklagte van handel in dwelms, geldwassery en rampokkery, is in die Oudtshoorn-streekhof vir vyf dae se verhoor tot Mei 2025 uitgestel. Die verdagtes is op 16 Maart verlede jaar tydens 'n reeks klopjagte, in hegtenis geneem.
Manfred John, Marshall McLune, Vincent Goba, Vivian Arries, Arlington Hurling, Shaun Hendricks, Emile Jonas en Chantelle Manewil is in Oudtshoorn in hegtenis geneem.
Madelyna Adams en Wilbur Paulsen is in Calitzdorp in hegtenis geneem, terwyl August Wild en Ann Erasmus in De Rust gearresteer is.
Malvyn Jacobs en Vladimar Gordon is in George gearresteer. Louis Emezeo, 'n Nigeriese burger, is in Kaapstad in hegtenis geneem en Reginald Fielies is in Gqeberha in hegtenis geneem. Die verdagtes is tussen die ouderdom van 32 en 58 jaar oud.
Die hoofverdagte, Manfred John (36), is 'n Oudtshoorniet wat glo reeds jare met dwelms in die Oudtshoorn-omgewing handel dryf.
Dié verdagtes is in Oudtshoorn in hegtenis geneem
![]() Arlington Hurling | ![]() Vincent Goba | ![]() Vivian Arries | ![]() Shaun Hendricks | ![]() Emile Jonas | ![]() Chantelle Manewill | ![]() Marshall McLune |
So sê die klagstaat
Manfred John en George Russouw (hy is in tussen oorlede) het, luidens die klagstaat, 'n onwettige dwelmonderneming in die Oudtshoorn-distrik en sy omliggende gebiede, insluitend Ladismith, Calitzdorp en De Rust, bestuur.
John en Russouw het in hul rol as bestuurders van die onderneming, by vier van die beskuldigdes dwelms in grootmaat in George en Gqeberha aangekoop.
Die hoofverdagte
Manfred John
Hulle het dan die dwelms aan verskeie afsetpunte in Oudtshoorn, Calitzdorp, Ladismith en De Rust verskaf en dit is dan vandaar verkoop. Luidens die klagstaat het John en Russouw hulle eie dwelmafsetpunte in Bridgton en Oudtshoorn bestuur. Die verkopers (runners), wat ook aangeklaagdes in dié saak is, het seker gemaak dat die dwelms verkoop word en persoonlik aan klante oorhandig word.
John en Russouw het ook soms dwelms afgelewer. Volgens die klagstaat het die ander verkopers ook hul eie verkopers gehad.
Gedurende April 2018 tot Maart 2020 het die beskuldigde by verskeie geleenthede transaksies met die polisie se geheime agente gedoen en onwettig dwelms aan die geheime agente verkoop. Elk van die beskuldigdes, volgens die klagstaat, is skuldig daaraan dat hulle óf deelgeneem het aan rampokkery óf die wet op rampokkery oortree het.
Die staat skoei sy saak op onderskepte kommunikasie van die hoofverdagtes om die bedrywighede van die onderneming te illustreer.
Verder sal die staat staatmaak op verskeie Artikel 252A-operasies, wat deur die polisie uitgevoer is wat die rolle wat elk van die verdagtes gespeel het, identifiseer.
"Die onwettige dwelmhandel van die onderneming het 'n nadelige impak op die gemeenskap van Oudtshoorn sowel as sy omliggende gebiede. Die staat sal wys hoe die lede van dié onderneming voordeel trek uit die onregmatige opbrengs van die onderneming met die gevolg dat daar 'n toename in misdaad binne hierdie gemeenskappe is," lui die klagstaat.
Die hofsaak
Die hof is deur die staatsaanklaer, Brandon Smith, ingelig dat die polisieondersoek voltooi is en die staat gereed is om met die verhoor te begin. 'n Landdros van Beaufort-Wes is ook reeds aangewys om as voorsittende beampte op te tree. Die verhoor sal vanaf 19 tot 23 Mei 2025 loop.
Vier van die verdagtes, Manfred John, Wilbur Paulsen, Arlington Hurling en Shaun Hendricks word aangehou terwyl borgtog van tussen R1 000 en R20 000 vroeër aan agt van die verdagtes toegestaan is.
Borgtog van R20 000 elk is aan Reginald Fielies en Melvin Jacobs toegestaan, R5 000 aan Marshall McLune, en R1 000 elk aan Vladimar Gordon, August Wild, Emile Jonas, Vivian Arries en Vincent Goba.
Ann Erasmus, Chantelle Manewil en Madalyna Adams is vrygelaat op waarskuwing.
Louis Emezuo is vroeër skuldig bevind aan handel in dwelms en 'n vonnis van 22 jaar tronkstraf opgelê.
Vorige berigte
- Hawks take down huge Southern Cape drug syndicate
- 16 in court for involvement in drug-trafficking syndicate
- Saak teen vermeende dwelmsindikaat uitgestel
- 16 Borgtoguitsprake van dwelmsindikaat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’