OUDTSHOORN NUUS - Nie eers visse is in Oudtshoorn veilig nie.
Een van die vreemdste misdade is die afgelope naweek blootgelê na wakker buurtwaglede besig was met patrollie in die dorp se woonbuurte.
Volgens Donovan Kleinhans, voorsitter van AfriForum-buurtwag, het hulle 'n man teëgekom wat 'n goudvis smous.
"Ons het gevra waar hy die vis gekry het en volgens hom het kinders dit by Karoo Antiques in Baron van Rheedestraat gesteel en aan hom gegee om te verkoop."
Kleinhans sê dat die buurtwag voorheen opgetree het na visse uit die dammetjie gesteel is.
"Omdat ons al voorheen so 'n klag hanteer het, het ek vermoed dat dit dalk weer die antiekewinkel s'n kan wees en die eienaar gekontak. Drie visse is gesteel, waarvan een lewend teruggekry is. Ons weet nie waar die ander twee is nie."
Volgens Libby van Antwerp, eienaar van Karoo Antiques, is dit nie die eerste keer wat haar visse uit die dam voor haar winkel gesteel word nie, en is dit ook nie haar enigste veiligheidskwessie wat sy by haar winkel het nie.
Sy noem dat die straatkinders 'n wesenlike probleem vir haar en ander sakelui in die straat is.
"My personeel is al deur straatkinders met 'n mes gedreig omdat hulle nie wou toelaat dat die kinders die visdam se water drink nie. Ons moet hulle gereeld verjaag aangesien hulle baie arrogant en gevaarlik raak. Toeriste in die straat word oorval deur die kinders wat ons besighede skade aandoen, asook 'n bitter swak indruk vir toerisme skep."
Van Antwerp sê die kinders keer gereeld terug en raak aggressief.
"Hulle vloek en skel vreeslik. Ons is moedeloos want niemand weet wat om met die kinders te doen nie."
Van Antwerp sê sy het nie 'n klag by die polisie ingedien nie, omdat sy een van die visse kon terugkry en omdat dit blyk dat daar geen volhoubare oplossing vir die probleem met die straatkinders is nie.
Diefstal in woonbuurte
Kleinhans sê dat diefstal 'n wesenlike probleem is, nie net in die dorp nie, maar ook in woonbuurte.
Volgens hom het die buurtwag Sondag 18 Januarie, 24 afsonderlike insidente hanteer. Insidente het ingesluit diefstal uit erwe en 'n voertuig, dra van gevaarlike wapens en verskeie verdagte persone wat ondervra en aangespreek is waar nodig.
"Hulle steel en verkoop graag plante, veiligheidskameras, selfone en tuingereedskap. Inwoners moet items soos hierdie bêre of buite sig versteek."
Volgens hom werk hulle nou saam met seku-riteitsmaatskappye, polisie en wetstoepassing en word polisie ingeroep wanneer dit nodig is.
Navrae is aan die polisie gestuur, maar geen terugvoer is ontvang nie.
Vorige berigte:
- Straatkind veroorsaak chaos in middedorp
- Alle rolspelers moet om die tafel sit
- Inwoners keelvol vir sosiale probleme in Oudtshoorn
- Wie sit kos op die tafel?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’