Update
OUDTSHOORN NUUS - Olivia Olifant (19), wat teregstaan op aanklag van moord op ’n 27-jarige man, het Maandag 9 Februarie vir die eerste keer in die Oudtshoorn-streekhof verskyn.
Die saak is vir instruksies en afskrifte van die dossier tot 16 Februarie uitgestel.
Volgens hofstukke het Olifant op 30 Augustus vir Gerald Hoogaard op die hoek van Unie- en Adderleystraat met ’n mes gesteek nadat hulle vroeër by die Rainbow Tavern gedrink het en later in ’n woordewisseling betrokke was.
Die staat het verlede jaar borgtog teengestaan, maar die landdros het bevind dat dit in belang van geregtigheid is om borgtog aan die aansoeker toe te staan.
Die hof het onder meer bevind dat daar geen getuienis voor die hof was dat haar vrylating die openbare rus sou versteur of dat sy sou vlug nie. Sy is ook ’n eerste oortreder met geen hangende sake nie en wou haar matriekeksamen aflê.
In haar borgtogaansoek het sy gesê dat sy onskuldig gaan pleit op die aanklag van moord, aangesien sy nie bedoel het om Hoogaard dood te steek nie.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni, wat Oliphant se borgtog van R3 000 en die borgtogvoorwaardes tot haar volgende hofverskyning verleng het.
Vorige berigte:
- Gemeenskap rou oor Gerarld
- Moordverdagte se borgtog uitgestel
- Borgtog vir matrikulant op aanklag van moord
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’