Update
VAN WYKSDORP NUUS - Die burgerregteorganisasie, Afriforum, het Dinsdag 15 Julie heftig reageer oor die moord op Valerie Enzer (79) by haar plaashuis sowat 2 km buite Van Wyksdorp in die Wes-Kaap.
Enzer se lyk is Maandag 14 Julie deur 'n plaaswerker op haar stoep aangetref. Sy is wreed vermoor en na bewering verkrag. 'n 17-jarige verdagte is in verband met die moord in hegtenis geneem.
Volgens Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van gemeenskapsveiligheid van Afriforum, doen hulle ’n beroep op die nuwe, waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, om plaasaanvalle onmiddellik as ’n nasionale prioriteitsmisdaad te klassifiseer.
Die versoek, wat al telkens aan vorige polisieministers gerig is, is ook weer aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) gerig.
Broodryk sê Enzer het glo weke voor die noodlottige aanval gekla oor heinings wat op haar plaas afgesny word en diere wat onwettig wei op die plaas.
"Volgens haar het sy min tot geen hulp van die plaaslike polisie ontvang nie. Hoeveel bejaardes moet in hul huise gemartel en vermoor word voordat die regering erken dat dit nie net ‘gewone misdaad’ is nie? Plaasaanvalle is wreedaardig, weldeurdag en stroop landelike gemeenskappe van ’n gevoel van veiligheid. Daarom eis ons weer dat plaasaanvalle formeel as nasionale prioriteitsmisdade geklassifiseer word - net soos transitorooftogte en renosterstropery,” het Broodryk gesê.
Hy het verder gesê dat AfriForum ’n formele motivering aan genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, voorgelê het.
"AfriForum het duidelike regs- en strategiese gronde vir hierdie klassifikasie kragtens artikel 17D van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens uiteengesit. Plaasaanvalle voldoen aan én oorskry die kriteria wat tans gebruik word om prioriteitsmisdade te definiëer. Dié kriteria sluit onder meer in uiters gewelddadige en voorbedagte aanrandings wat dikwels marteling en teregstellings behels; die teiken van kwesbare slagoffers, veral bejaarde boere en werkers wat in afgeleë gebiede woon; en die gebruik van ’n georganiseerde modus operandi wat ooreenstem met dié wat sindikate gebruik (soos om slagoffers se bewegings dop te hou en om gekoördineerde bewegings en ontsnappingsplanne in te span).
"Verdere kriteria waaraan plaasaanvalle ook voldoen om as nasionale prioriteitsmisdade geklassifiseer te word, is die nasionale ekonomiese en voedselsekerheidsimpak van die misdade, veral aangesien plaasaanvalle produktiewe plase destabiliseer; en die voorkoms van hoë vlakke van openbare vrees, gemeenskapstrauma en politieke aanhitsing."
Hy sê AfriForum het ook ’n beroep gedoen vir die onmiddellike vestiging van ’n toegewyde Valke-taakspan vir landelike misdade. Dié taakspan moet bemagtig word met die nodige mandaat en kapasiteit om plaasaanvalle op nasionale vlak te ondersoek. Die span moet voorts ook nou saamwerk met die SAPD se landelike veiligheidseenhede, boerdery-organisasies en gemeenskapsveiligheidsnetwerke om ’n gekoördineerde en doeltreffende reaksie te verseker.
"Om plaasaanvalle as prioriteitsmisdade te klassifiseer, is nie simbolies nie - dis strategies. Dit beteken meer hulpbronne, vinniger reaksietye, beter ondersoeke en behoorlike geregtigheid vir die slagoffers.
"Valery Ezner se dood moenie net nóg ’n naam wees wat verlore raak op ’n lys van plaasmoordslagoffers nie. Dit moet ’n keerpunt wees,” sê Broodryk.
Lees vorige berig hier:
Van Wyksdorpmoord: 17-jarige in hegtenis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’